Sunday, July 29, 2012

Aangeval ná dreigoproepe

Elaine Swanepoel ’n Pretoriase vrou is by haar huis in Daspoort aangeval en verskeie keer met ’n lemmetjie in die gesig gesny toe sy helderoordag wasgoed opgehang het. Louisa Putter (58) het Vrydagmiddag haar wasgoed opgehang toe ’n man met ’n klapmus oor die kop haar oorrompel het. Sy het glo die laaste ruk verskeie doodsdreigemente oor die foon en in die pos gekry. Sy is met ’n voorwerp oor die kop geslaan en het haar bewussyn verloor. Toe sy weer bykom, was sy aan die wasgoedlyn vasgebind. Haar aanvaller het haar met ’n skerp lemmetjie in haar gesig gesny. Sy het vooroor gebuk en haar selfoon, wat voor in haar hemp was, het op die grond geval. Haar seun, Pieter, het die vorige aand, juis weens die dreigoproepe en -briewe, sy nommer op speed dial op haar foon gestel. Pieter sê sy ma het dit reggekry om hom te bel sonder dat die aanvaller dit kon sien. “Toe ek die foon antwoord, het ek my ma my naam herhaaldelik hoor skree.” Hy was naby Hartbeespoortdam en het onmiddellik ’n vriendin gebel wat in die Pretoriase Moot bly. Sy is na die huis en het hulp van die bure gekry. Een van die mans het oor Louisa se muur gespring en gesien hoe die aanvaller oor die agterste muur vlug. Louisa is in die Bougainville-hospitaal in Pretoria-Wes opgeneem en die volgende dag ontslaan. “Sy is gesond, maar erg getraumatiseer,” sê Pieter. Hy sê sy ma het twee weke voor die voorval ’n brief in die pos gekry met die woorde: “Jy gaan doodgaan b****.” “’n Vreemde man het haar ook verskeie kere gebel en gesê hy weet sy is alleen en sy gaan doodgaan. Ons het aanvanklik niks daarvan gedink nie omdat daar baie mense is wat dink hulle is snaaks. Sy sou Vrydag ’n klag by die Hercules-polisiekantoor gaan indien het.” Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van poging tot moord word ondersoek.

No comments:

Post a Comment