Wednesday, July 18, 2012

Melkboer op verjaardag geskiet

Hilda Fourie ’n Melkboer het, voordat hy geskiet is, met sy aanvallers gestoei wat sy slaapkamer ingekom het deur ’n reuse-boomstomp deur die venster te gooi. Hibbe van der Veen het vermoedelik daarna voor sy kamerdeur geval wat veroorsaak het dat sy neef nie die deur kon oopmaak om hom te help nie. Van der Veen is in die waakeenheid van die Wilgers-hospitaal in Pretoria. Sy toestand was teen gisteraand stabiel. Die koeël het by sy buik ingegaan en agter by sy boud uitgekom. Sy ingewande is erg beskadig. Dié nagmerrie-voorval het hom eergisteraand tussen 23:00 en middernag, op Van der Veen se 64ste verjaardag, op ’n plaas buite Bronkhorstspruit afgespeel. Van der Veen het in 1974 van Nederland na Suid-Afrika gekom. “Ek weet nie of my pa in sy bed was toe hy geskiet is nie, maar hy het vir my gesê hy het met hulle gestoei,” het Rudolf van der Veen (43) gisteraand gesê. “Watter soort barbaar skiet ’n man in sy bed? Vir my pa was dit nie ’n kwessie van of dit gaan gebeur nie, maar eerder wanneer dit gaan gebeur, want dit is deesdae hoe die wêreld is. Boere is sagte teikens.” Volgens Van der Veen jr. is sy pa ’n sterk man “wat Bismarck du Plessis sal skrum”. Hy melk ook soggens self sy 20 beeste. Van der Veen jr. was gister heeldag by sy pa se huis wat hy met sy neef, Jurie Smith (65), en dié se vrou, Bettie (60), deel. Die boomstomp het nog in sy pa se kamer gelê. Van der Veen jr. het gesê drie mans het sy pa oorval. Smith het wakker geword van die rumoer in sy neef se kamer, wat langs syne is. “Jurie het na my pa se kamer gegaan. Toe hy my pa se kamerdeur oopmaak, het hy in ’n vuurwapen se loop vasgekyk,” het Van der Veen jr. gesê. “Hy het na sy eie kamer gegaan, die deur toegemaak en ’n skoot met sy vuurwapen geskiet. Jurie het blykbaar een van die mans getref voordat hulle gevlug het. Al wat weg is, is my pa se Nokia-selfoon wat ’n mens by Pep koop.” Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê toe die huis stil word, het Smith na Van der Veen sr. se kamer gegaan. Hy kon nie die deur oopkry nie. Smith het die buurman gebel wat hom gehelp het om die deur oop te forseer. Van der Veen sr. het teen die deur gelê.

No comments:

Post a Comment