Sunday, July 29, 2012

Skote klap toe man motor wou verkoop

KAAPSTAD. – ’n Man se poging om sy motor aan ’n polisieman te verkoop, het Saterdagoggend in Kuilsrivier in ’n skietery ontaard toe twee mans hulle probeer beroof het. ’n Booswig is gewond en sy makker is op vrye voet. Die twee verdagtes het Saterdagoggend twee mans wat in Brantwoodstraat, Kuilsrivier, voor die een se huis gestaan en praat het, beroof. Die twee het toe in een van dié mans se voertuig gespring en gepoog om weg te ry. Een van die mans wat gedreig is, is ’n polisiebeampte wat by die parlement werk. Dié het toe sy vuurwapen uitgehaal en op die voertuig geskiet. Die voertuig het in ’n muur vasgery. Een verdagte is gewond en die ander het gevlug. Dié drama het hom Saterdagoggend helder oordag afgespeel, het die eienaar van die huis in Brandwoodstraat (wat gedreig is), aan Die Burger gesê. Hy het verkies om anoniem te bly. Hy het gesê hy het ’n advertensie geplaas om sy voertuig te verkoop en dat die polisiebeampte belang gestel het om dit te koop. “Die polisiebeampte het Saterdagoggend geld gaan trek en toe na my gekom. Ons het nog hier buite gestaan en gesels, toe kom twee ouens deur die hekkie. “Hulle het gesê ons moet net ons cooperation gee en álles gee wat ons het.” Hy en die polisiebeampte is op hul knieë gedwing en het hul selfone, sleutels en beursies aan die verdagtes oorhandig. “Die een het die vuurwapen die heeltyd op ons gehou.” Die twee skurke het kort daarna in die polisiebeampte se voertuig gespring om te probeer wegkom. Kort daarna het die polisiebeampte sy vuurwapen uitgehaal. “Ek weet nie wie eerste geskiet het nie, maar toe was daar ’n oor-en-weer-skietery. Ek het toe net na binne gehardloop om weg te kom.” Een verdagte is gewond en die ander het te voet gevlug. Die betrokke polisiebeampte wou nie op die toneel met Die Burger praat nie. Ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy het ook bevestig dat die betrokke polisiebeampte by die parlement werk. Hy wou nie die polisiebeampte se naam verskaf nie. - Die Burger

No comments:

Post a Comment