Tuesday, July 10, 2012

Baba in gyseldrama

Eugene Gunning GEORGE. – ’n Drie maande oue baba was onder diegene wat Maandag helder oordag by ’n huis in die middedorp deur drie booswigte gyselaar gehou is. Riaan Stoltz, die pa van die baba, het Die Burger gister van dié nagmerrie-ondervinding vertel. Ofskoon sy dogtertjie, Gemma, asook sy vrou, Mandi, en ’n huishulp, Mavis, ongedeerd is, is sy skoonpa, Andy Weitsz, ernstig beseer in dié voorval. Volgens Stoltz bly Gemma bedags by ’n huishulp in sy skoonpa se huis in Mitchellstraat. Die huishulp het omstreeks 11:00 buite wasgoed gaan ophang. Met haar terugkeer het sy haar in drie mans vasgeloop. Een het ’n rewolwer teen Gemma se gesig gedruk. Hy het gesê sy moet saamwerk, anders gaan hulle die baba skiet. Sy het die kind by die mans geneem en haar gaan neerlê. Die booswigte het die huishulp toe vasgebind. Omstreeks 12:30 het ’n niksvermoedende Andy Weitsz opgedaag. Dit was vir hom vreemd dat sy hond buite was. Die mans het hom binne die huis oorrompel en verwoed aangerand. Mandi Stoltz het sowat ’n halfuur later by die huis aangekom. Toe sy by die deur instap, het sy ’n man gesien, maar gedink dit is een van haar pa se werkers. “Ek het ook gesien hoe hulle iemand op die grond slaan, maar het nie besef dit is my pa nie. “Ek het om hulp geskreeu en een van die mans het my by die huis probeer intrek. Ek het terugbaklei en ’n mes uit die een se hand geslaan.” Die mans het toe gevlug. Sy het in een van die ander vertrekke op Gemma afgekom. “Die Here se engele het my Gemma beskerm.” Gelukkig het die egpaar se ander dogtertjie, Kylee (3), dié dag by haar ander ouma gekuier. Sy is gewoonlik ook by oupa Andy. Stoltz het gesê dit is tyd dat mense begin saamstaan teen misdaad. “Mense dink altyd dit kan net met ander mense gebeur.” Een van die dinge wat hom sal bybly van die voorval, is die hulp van ander mense. Hy het veral Mandi se werkgewer, Tavcor-motors, bedank omdat dié se personeellede gou op die toneel was om te help. Kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê enigiemand met inligting word gevra om ao. Allie du Plessis by 044 803 4400 te bel. - Die Burger

No comments:

Post a Comment