Wednesday, July 25, 2012

2 het kind verdrink in kookwater

Riata Nel Die mans wat ’n huilende 12-jarige seun se mond toegebind en hom daarna in ’n bad kookwater gegooi het om te verdrink, het gister al laggend by die Vereeniging-streekhof na die selle afgestap nadat hulle skuld beken het aan dié moord. Hulle het ook erken dat hulle die seun se ouers vermoor het. Amaro Jose Viana is op 1 Oktober wreed vermoor in sy ouerhuis in Walkerville, suid van Johannesburg, want hy het die mans geken wat sy ma, Geraldine (42), en pa, Tony (53), vermoor het. Patrick Petrus Radebe (24), die gesin se tuinwerker, Sipho Mbele (21), hul huiswerker se seun, en Sphiwe David Motaung (20) het gister skuld beken op alle aanklagte teen hulle. Charmaine Castleman, die drie se prokureur, het gister uit haar kliënte se verklaring voorgelees dat die mans by die Viana-woning ingebreek het om besittings te steel en sodoende Geraldine Viana “terug te kry” oor die manier waarop sy hulle behandel het. Die gesin se hond het vreeslik geblaf tydens die inbraak en is doodgemaak deur sy buik oop te sny. Amaro se pa het eerste by die huis opgedaag nadat die mans reeds ingebreek het. Die mans het hom in die huis van agter met ’n panga en gholfstok oorval, hom gedwing om die kluis oop te sluit en hom toe vasgebind. Geraldine en Amaro het later by die huis opgedaag en is in aparte kamers vasgebind. “Ons het haar onderskeidelik verkrag.” Eers het Mbele haar verkrag terwyl Radebe hom gehelp het om haar stil te hou deur op haar gesig te staan. Daarna het Radebe haar verkrag. Mbele het toe ’n kussing oor haar gesig gedruk en haar deur die kussing geskiet met die vuurwapen wat hulle van haar man gebuit het. “Daarna het Sipho die vuurwapen geneem en Tony in die kop geskiet.” Mbele en Radebe is na Amaro se kamer en het besef hy ken hulle en sal hulle kan uitken. “Ons het na die badkamer gegaan en die kraan oopgedraai. Ons het hom gaan haal en sy mond vasgebind omdat hy gehuil het. Ons het hom in die bad ingestamp met sy gesig na onder, met die wete dat hy sal verdrink.” In die bewysstukke wat ingedien is, was dit duidelik dat die seun in kookwater gedruk is. Dit het egter nog nie in die hof aan die lig gekom waaraan presies hy dood is nie. Amaro se hande was agter sy rug vasgebind. Sy voete was ook vasgebind. Mbele en Radebe het skuld beken op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel, roof met verswarende omstandighede, verkragting, drie klagte van moord, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en opsetlike saakbeskadiging. Motaung het skuld beken aan huisbraak met die opset om te steel, roof met verswarende omstandighede en opsetlike saakbeskadiging. Vonnisverrigtinge sal op 6 September begin.

No comments:

Post a Comment