Tuesday, July 10, 2012

Man (57) se lyk met steekwonde gevind in huis in Muizenberg

Maygene de Wee KAAPSTAD. – ’n Man wat sy suster se huis opgepas het terwyl sy en haar gesin op vakansie was, is Maandagaand dood in haar Lakeside-huis in Muizenberg aangetref. Gavin Maritz (57), wat glo in die klere- en modebedryf gewerk het, is volgens die polisie met steekwonde in sy suster, Lisa Ballerini, se huis gevind. ’n Provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. André Traut, het gister gesê Maritz se lyk is Maandag omstreeks 18:15 gevind. Hy kon nie sê deur wie dit gekry is nie. Volgens Traut is twee rekenaars en Maritz se swart VW Polo (registrasienommer CA 628454) gesteel. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Inbrekers het volgens ’n buurvrou by ’n woonstel ingebreek wat bo die hoofhuis in Leicesterstraat, Lakeside, gebou is. Daar word vermoed dat hulle Maritz hier verras en toe vermoor het. Ballerini wou nie gister met Die Burgerpraat nie. ’n Buurvrou het haar gebel, maar sy het gesê hulle is nie gereed om met die media te praat nie. Die huis waar Maritz se lyk gevind is, is teen ’n helling gebou. Slegs die dubbelmotorhuis is vanaf die straat sigbaar. Met Die Burger se aankoms op die toneel gisteroggend was forensiese ondersoekbeamptes nog druk besig om die huis vir leidrade te fynkam. Die huis was aan die voorkant met ’n geel polisielint afgesper. Aan die agterkant, waar die woonstel geleë is, is daar slegs digte struike wat aan Boyesweg grens. - Die Burger

No comments:

Post a Comment