Thursday, July 26, 2012

Vrou praat ná gewapende rooftog

Jana van der Merwe “DIE werk moet aangaan. Ons kan nie stilsit nie,” Só sê Yvonne Rossouw (62) vasbeslote nadat sy en haar twee huishulpe en mede-baksters vir tuisnywerhede eergisteroggend in ’n huisrooftog in Fichardtpark, Bloemfontein, deur drie gewapende rowers oorval is. Rossouw is geskop, gestamp en met die loop van ’n pistool in haar gesig gedreig, terwyl haar werknemers, Dalena Moerane (50) en Dinkie Tukola (42), in ’n badkamer toegesluit is. Yvonne, ’n pensioentrekker, bak vir verskeie tuisnywerhede vir ’n ekstra inkomste. Dalena en Dinkie is al jare lank haar getroue helpers. Albei is nog baie bang en getraumatiseerd. Terwyl sy ’n sponskoek uit die oond haal, sê Dalena: “Ek het gisteraand nie ’n oog toegemaak nie.” In 1999 was sy ook in ’n huisrooftog by haar vorige werkgewer in Langenhovenpark die slagoffer. Sy is toe ook vasgebind en met ’n vuurwapen gedreig. “Ek wens dit kan ophou.” Yvonne se man, Jerry, werk ook van die huis af en herstel yskaste en ander elektriese toestelle. Een van die rowers het jare lank vir hom gewerk. Hulle vermoed dit is ook hy wat ’n maande gelede by hul huis ingebreek het. Yvonne sê: “Hy ken die opset. Hy weet wat is ons doen en late. Hy het geweet my man het koeke afgelewer en was nie by die huis nie.” In die onlangse inbraak is hul motor se spaarsleutels en haar man se gereedskap gesteel. “Seker sodat hy sy eie onderneming kan begin. Ons was goed vir hom. Ons het altyd vir hom geld geleen, hy kon maar net vra.” Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie doen alles wat hy kan om die rowers vas te trek. - Volksblad

No comments:

Post a Comment