Friday, July 13, 2012

Nog ’n Kurumanse sakeman vermoor in rooftog

Lynn-Mari Olivier KURUMAN. – Twee weke ná die moord op die sakeman At Fraser is ’n winkelbestuurder hier doodgeskiet en sy kollega deur rowers gewond. Mohammed Robiul Islam, ’n Bangladesjiese winkelbestuurder in Seodin, is eergister kort ná middernag in die kop geskiet nadat drie rowers hom opgeklop en oorval het. Sy kollega Mohammed Mizanur Rahman is deur die rowers in die hand geskiet. Hy is na ’n hospitaal in Kimberley gebring. Die rowers het geld, selfone en lugtydbewyse gesteel. Pakistanse en Bangladesjiese sakelui hier sê hulle is geskok en bekommerd. “Ons vrees vir ons lewe en voel ons is aan ons eie genade oorgelaat. Niemand wil ons help nie,” sê Shahid Mahood, ’n vriend van die twee slagoffers. Imran Hasan was ook onlangs die slagoffer van ’n rooftog. Altesaam R40000 is by hom gesteel. “Ek verstaan glad nie wat aangaan nie. Drie jaar gelede was Kuruman nog ’n vreedsame plek.” Sakelui hier sê die vermoorde Islam en die gewonde Rahman het die winkel vir hul vriend Intzar Hussain bestuur. Hussain het verskeie ondernemings op Kuruman. Lt. Sergio Kock, polisie-woordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting oor die moord en rooftog word gevra om konst. Ratelang Maibi by 076-011-0571 te bel of 086-001-0111. - Volksblad

No comments:

Post a Comment