Tuesday, July 10, 2012

Gedeeltelik verlam ná 3 nagte in koue kattebak

Hilda Fourie Die “lewe en siel” van Wakkerstroom is gedeeltelik verlam nadat sy drie nagte en twee dae in die kattebak van haar motor toegesluit was. Brenda Carter (80) het ’n beroerte gekry nadat sy tydens ’n rooftog in die kattebak gedwing is. Sy is eergisteroggend gevind nadat ’n deel van haar serp wat by die Mercedes-Benz se kattebak uitgehang het ’n werker se aandag getrek het. “Almal voel so sleg en skuldig, want terwyl hulle die naweek na my ma gesoek het, het hulle verskeie kere verby die motor geloop. “Niemand het daaraan gedink om in die kattebak te kyk nie,” het Brenda se seun, David Carter (50), ’n kunstenaar van Johannesburg, gister gesê. “Die motor was buite geparkeer. Dit was by tye tot -7 °C, maar sy het die koue oorleef. Sy het geen kos of water by haar gehad nie, maar het die ontwatering tog oorleef. My ma is ’n sterk ou vrou. “Maar sy het nie haar medisyne by haar gehad nie en ’n beroerte gekry. “My ma, wat die lewe en siel van die dorp is en altyd reg is vir ’n partytjie, kan nou nie meer praat nie en is verlam aan haar regterkant. “Die kans is goed dat dit permanent gaan wees.” Brenda is ’n bekende irisboer van Wakkerstroom, ’n dorpie tussen Volksrust en Piet Retief. Haar blomme word landwyd versprei. Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê ’n 25- jarige man is eergister in verband met die rooftog in hegtenis geneem. Hy is na verneem word aangekeer toe hy geld met haar bankkaart getrek het. Volgens David het die man ’n paar dae per week by sy ma se erdwurm-boerdery gewerk. Hy het gesê sy ma het Vrydag omstreeks 19:00 by die huis gekom nadat sy by vriende gekuier het. Sy woon langs die polisiekantoor. Sy is vermoedelik oorval net nadat sy uit haar motor geklim het. Die motor se sleutel was nog in die deur toe sy gevind is, het David gesê. Sy is glo aangerand voordat sy in die kattebak ingeboender is. Net haar handsak is geroof. Vriende van haar was Saterdag by haar huis, maar kon haar nie kry nie. David het sy ma Saterdag en Sondag gebel, maar nie onraad vermoed nie omdat sy taamlik doof is en baie keer nie die telefoon hoor nie. Eergister het David ’n werknemer van sy ma gevra om haar te gaan soek. Dit is toe dat die werknemer in die kattebak op haar afgekom het. Sy was bewusteloos. Ná mediese behandeling het sy haar bewussyn herwin. “Almal in die dorp ken Brenda en is mal oor haar. Sy is ’n karakter. Daar is iets spesiaals omtrent haar,” het Pat Scott, ’n kennis, gesê. “Dit is nooit lekker om so iets te sien nie, maar dit is nog moeiliker as dit iemand is wat jy ken.” David het gesê sy ma word in die Amajuba-gedenkhospitaal in Volksrust behandel, maar sal na verwagting môre na die sorgeenheid vir verswaktes in die Dana-tehuis in Wakkerstroom oorgeplaas word.

No comments:

Post a Comment