Wednesday, July 18, 2012

Voël sê ‘hallo’ en laat rowers ‘koebaai’

Wolfram Zwecker ’n Vrou en haar seun wat angsbevange in hul badkamer vir inbrekers weggekruip het, is oortuig daarvan dat hul gryspapegaai, Didie, se “hallo” die inbrekers so die skrik op die lyf gejaag het dat hulle ná wilde skote in die lug halsoorkop gevlug het. Dié verhaal het verlede week vroegoggend in Kempton Park afgespeel. “Dit was so vyfuur toe hoor ek die ruit van die skuifdeur na buite breek. Ek het my seun wakker gemaak en ons het ons in die badkamer gaan toesluit,” vertel die vrou, wat anoniem wil bly. “Ná die geraas van die gebreekte glasdeur was daar so ’n rukkie stilte. Toe klap die skote. Ons het drie skote gehoor en toe was dit weer stil,” sê sy. ’n Rukkie later, toe niks verder gebeur nie, is hulle uit die badkamer en het alarm gemaak. “Die veiligheidsmaatskappy was binne drie minute daar en die polisie in vier. En albei groepe was uiters behulpsaam en professioneel,” sê sy. Volgens ao. Cobus Holloway, polisiewoordvoerder, kon hulle eers nie agterkom wat gebeur het nie. “Die een koeël was hier bo teen die muur, amper in die plafon, en die ander een in die teenoorgestelde rigting deur die gordyne. “Maar ons kon nie uitwerk hoekom die rowers geskiet en gevlug het nie. Die DVD-speler en TV het by die gat in die skuifdeur gelê, maar niks is gesteel nie. Jy kon sien die manne is bitter vinnig daar uit,” het hy gesê. Tydens sy gesprek met die vrou het sy skielik besef dit kon net die papegaai gewees het wat die rowers so die skrik op die lyf gejaag het. “Ons het hom by mense gekry wat nie meer na hom kon omsien nie. Ons is seker al die sesde eienaars en hy is nie mak nie. Hy staan so twee tree van waar die skuifdeur gebreek is en hulle ingekom het, so tussen die TV-kamer en sitkamer. Ons gooi hom elke aand met ’n kombers toe. “Ek vermoed toe hy die inbrekers hier langs hom hoor, toe groet hy maar in die pikdonker met sy gebruiklike ‘hallo’. Hy sê dit in so ’n diep, swaar manstem. “Hulle het seker gedink hier staan die duiwel langs hulle, skote in die donker afgetrek en is met ’n spoed daar uit,” sê sy. “Ons is erg getraumatiseer deur die ervaring en het besluit om die huis in die mark te sit en te trek. Ek weet nie wanneer hulle terugkom nie.”

No comments:

Post a Comment