Thursday, July 26, 2012

Twee donker moorde

Hilda Fourie Twee vroue is gister in Wierdapark, Centurion, doodgesteek in ’n aanval wat oënskynlik met satanisme verband hou. “Ek het (die) dangerous prayer gedoen. Die Here beskerm my,” het een van die slagoffers, Natacha Burger (33), in ’n selfoonboodskap vir ’n vriendin laat weet. Ure later is sy en ’n buurvrou, Joy Boonzaaier (68), dood in dié se meenthuis in gevind. Vriendinne wat gisteraand pizza en wyn by Burger sou geniet het, het ure lank in die parkeerterrein van dié veiligheidskompleks, Lancelot in Reddersburgstraat, gestaan terwyl die polisie die gru-toneel ondersoek het. Burger, ’n prokureur, Boonzaaier en haar vriendinne is betrokke by ’n bediening wat met voormalige sataniste werk. Die vriendinne was gisteraand te bang om hul name te noem “want netnou kom hulle terug”. Walter Stander, ’n kapelaan van Kuriake-bediening, het gesê dit wil voorkom of dié satanistiese moorde was. “Iemand het gisteraand omstreeks 22:00 aan Natacha se deur geklop. Sy het nie oopgemaak nie. Toe sy vanoggend opstaan, het sy bloed aan die geut buite haar huis gesien,” het Stander gisteraand gesê. Burger het ’n selfoonfoto van die bloed vir haar vriendinne gestuur. ’n Vriendin het vir haar gevra: “is dit bloed?”. Burger het geantwoord “jip, ek dink so”. Nadat die vriendin vir haar gesê het “jy weet wat dit beteken”, het Burger geantwoord dat sy die “dangerous prayer” gedoen het. Die laaste BBM wat Burger vermoedelik gestuur het, was omstreeks 16:45 om die aand se reëlings te bevestig. ’n Buurvrou, wat ook te bang is om haar naam te noem, het gesê sy het tussen 16:00 en 17:00 ’n geraas gehoor soos deure wat slaan en kaste wat omval. Sy het in die rigting van Boonzaaier se meenthuis gekyk, maar niks gesien nie. Boonzaaier se hond het ook nie geblaf nie. ’n Rukkie later het sy en haar dogter besluit om te gaan kyk. Toe hulle verby Boonzaaier se meenthuis stap, het die vrou se dogter voete gesien. Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê die vroue is in die sitkamer en slaapkamer gevind. Hulle is verskeie kere met ’n skerp voorwerp in hul bolywe gesteek. Die moorde het, volgens patoloë, vermoedelik tussen 16:00 en 16:15 gebeur, het Huma gesê. Huma het gesê daar is ’n brief by Burger gekry wat lui: “kom asseblief, ek wil jou dringend sien”. Dit is nie duidelik wie die brief geskryf het nie. “Daar is bewerings dat dié ’n satanistiese moord is, maar dit sal deel uitmaak van die polisie se ondersoek. Ek kan dit nie bevestig nie”. ’n Ander vriendin van Burger, wat saam met haar in die bediening is, het gesê dreigemente is deel van die werk wat hulle doen. “Jy kry SMS’e en word gedreig. Vir ons is dit nie meer ’n big deal nie. Totdat dít nou gebeur het,” het sy gesê.

No comments:

Post a Comment