Sunday, August 5, 2012

Man vertel hoe hy op vrou se lyk afkom

Marlene Jordaan Odendaalsrus. – Die gemeenskap hier is erg geskok nadat die geliefde Annette Knoetze Vrydag in haar huis vermoedelik met ’n mes doodgesteek is. Knoetze (64) is deur haar man, Johan (66), ’n plaaslike prediker, tuis dood aangetref. Sy was die ma van drie bekende vroue in die regte in die Vrystaat en Noordwes. ’n Bedroefde Johan het vertel hoe hy Vrydag net ná 19:00 op die bebloede lyk van sy vrou, met wie hy 42 jaar lank getroud was, in hul huis afgekom het. “Toe ek die voordeur oopsluit, het dit gevoel ’n yskoue wind tref my.” Knoetze het vertel hoe hy na sy vrou geroep het en haar skoene, met afgebreekte hakke, in die gang gesien het voor hy haar lyk aangetref het. “Sy het ’n steekwond in haar bors gehad en haar polse was stukkend gesny. Sy moes beslis probeer terugveg het en by die noodknoppie probeer uitkom het. Sy is ook teen die kop geslaan,” het hy gesê. Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die lykskouing môre sal bepaal presies hoe sy gesterf het. Annette is ’n oudonderwyseres van Odendaalsrus en die ma van Melinda de Kock, Izette Knoetze en Frieda Schultz. Die drie susters het saam altesame 28 jaar aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. Melinda is hoof van Legal Aid in die Noordwes, terwyl Izette haar doktorsgraad in die regte verwerf het. Frieda is ’n prokureur in Namibië. Johan Knoetze is ’n lekeprediker en hoof van die Afrikanerkerk op Allanridge. Johan sê hy was Vrydagmiddag in Virginia besig om pamflette af te lewer. Hy het herhaaldelik huis toe gebel, maar nie antwoord gekry nie. Toe hy omstreeks 19:00 tuis kom, was sy Nissan 1400-bakkie in die straat geparkeer met die alarm geaktiveer. Gewoonlik staan dit agter slot en grendel op die erf. Knoetze sê hy het min woorde om te beskryf hoe hy voel. “Ons het ’n rukkie gelede in die motor gery en toe sê sy vir my: ‘My man, ek is so lief vir jou, ons moet tog net saam doodgaan.’ Sy was ’n dierbare vrou wat nie ’n vlieg sou skade aandoen nie.” Knoetze word ook oorleef deur haar skoonseuns, Jan de Kock en Sven Schultz, en kleinkinders Aghida Ungerer en Marco en Jens Schultz. Die polisie ondersoek die moord.

No comments:

Post a Comment