Monday, August 13, 2012

Vrou vroegoggend voorgelê

Susan Cilliers Hartbeesfontein. – ’n Vrou is gister by haar plaashek naby dié Noordwesdorp doodgeskiet minute nadat sy haar seun by die skool afgelaai het. Ronél van Eyk (46) het kort voordat sy aan haar wonde beswyk het, aan die polisie beduie daar was drie rowers. Haar beserings was so ernstig dat sy nie kon praat nie en net geroggel het. Die rowers het haar omstreeks 8:00 gisteroggend oorval toe sy uit haar Toyota Condor klim om die plaashek oop te maak, kort nadat sy Freddie (9) by sy skool in die dorp afgelaai het. Die rowers het vermoedelik agter ’n geboutjie by die plaashek geskuil en Van Eyk verskeie kere geskiet, onder meer in die gesig. Hulle het met haar Toyota Condor gevlug. Dis enkele ure later verlate naby Coligny gevind. Die polisie het teen druktyd gister nog na die rowers gesoek. Jurie Fourie, eienaar van die buurplaas, het gister op die toneel vertel hy was besig om ontbyt in sy dorpshuis te eet toe sy selfoon net ná 08:00 lui. “Dit was Ronél. Sy het net geroggel. Ek het teruggebel toe die selfoon afgaan. Ronél het opgetel en weer net geroggel.” Fourie en ’n vriend, Sarel van Biljon, het hulle na die plaas gehaas. Daar het hulle Van Eyk nog lewend by die plaashek aangetref. Hulle het ’n dokter, die polisie en ambulans ontbied. Volgens Van Biljon is Van Eyk in die bors, linkerarm en kakebeen geskiet. Sy het op pad na die hospitaal gesterf. Haar man, Fred, ’n passer-en-draaier by ’n myn, was nie by die huis toe sy vrou geskiet is nie. Hul oudste seun, Nardus (21), was vir opleiding in Johannesburg. “Dis ’n groot skok,” het Nardus, ’n ingenieurstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, gistermiddag vertel. “Die een oomblik is jou ouer nog daar en die volgende oomblik nie meer nie. Dis baie hard op Freddie. Hy verstaan dit nie en mis haar klaar.” Van Eyk het die plaas bestuur en met beeste gespekuleer. Haar skoonsuster, Magriet Fouché, het vertel Van Eyk was ’n vrou wie se “ja haar ja was”. “Sy het maklik in die boeregemeenskap aangepas en was vriendelik en opgewek.” Van Eyk se bejaarde pa, Pieter Fouché, was teen druktyd gister nog van Mosselbaai in die Wes-Kaap op pad na die res van die familie. Haar ma, Rita, is reeds oorlede.

No comments:

Post a Comment