Sunday, August 5, 2012

Bekende boer sterf ná koma weens aanranding

André Damons CLOCOLAN. – ’n Bekende plaaslike kersieboer wat in ’n koma was nadat hy deur ’n rower oor die kop geslaan is, is in ’n Durbanse hospitaal oorlede. Kempen Higgo (80), van die plaas Van Niekerkskroon naby dié dorp, het ernstige bloeding op die brein opgedoen nadat hy vermoedelik met ’n baksteen oor die kop geslaan is toe hy vis en skyfies gaan koop het. Hy en sy vrou, Adri (81), was op Scottburgh, KwaZulu-Natal, met vakansie toe die aanval gebeur het. Hy het Donderdag skielik ’n terugslag gehad en is omstreeks 13:00 oorlede, het sy seun, Gerrit, ook van Clocolan, gister gesê. Higgo was sedert die aanval in ’n koma in die Entabeni-hospitaal in Durban. Volksblad het vroeër berig Higgo het voorverlede week van hul vakansiewoonstel in die Peace Haven-woonstelkompleks oor die pad na die vis-en-skyfie-winkel geloop toe hy oor die kop geslaan is. Die rower het met sy beursie gevlug. ’n Veiligheidswag het op hom in die pad afgekom en alarm gemaak. Hy het ’n vier uur lange breinoperasie ondergaan om die bloeding op sy brein te probeer verlig en was sedertdien in ’n koma. “Dit is ’n groot skok vir ons almal. Dit is baie sleg. Hy was stabiel en het goeie vordering gemaak. Ewe skielik het hy die terugslag gekry.” Volgens Gerrit was sy ma sedert haar man se aanval langs sy bed. Sy het eers eergister teruggekeer huis toe. Gerhard het sy pa as ’n wonderlike mens beskryf wat diep spore in die gemeenskap gelaat het. “Hy was ’n man van God en by baie dinge betrokke.” ’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word. Higgo sal Saterdag uit die NG Kerk Clocolan begrawe word voordat hy op die plaas Constantia ter ruste gelê sal word. - Volksblad

No comments:

Post a Comment