Monday, August 6, 2012

Vrou met Jeyes Fluid gemartel

Susan Cilliers Potchefstroom. – Die polisie soek onverpoos na boewe wat ’n vrou vermoor het deur haar aan te rand en met onder meer Jeyes Fluid te martel. Die erg getraumatiseerde Francois van Blerk het gister vertel hoe hy en sy 16-jarige seun, Emile, Vrydag omstreeks 17:30 op hul huishulp, Meisie Anna Wageng (39), se lyk afgekom het. Sy is in die Van Blerk-gesin se huurhuis in die Haaskraal-omgewing naby die stad aangerand en vermoedelik verkrag. Onder meer Jeyes Fluid en pille is in haar keel afgedwing. Die polisie het gister nog leidrade op die toneel opgevolg. Van Blerk het vertel hulle los altyd soggens die agterdeur vir Wageng oop omdat hy en sy vrou, Michelle, albei in Potchefstroom werk en die gesin daarom al vroeg uit is. “Toe ons vroegaand Vrydag by die huis kom, het ek dadelik onraad vermoed toe ek sien die traliehek is oop en die houtdeur toe. Anna los nooit die deur oop nie,” het Van Blerk gister by die aluminiumonderneming waar hy werk, vertel. “Ek het ’n aardige gevoel gekry toe ek die skottelgoed onaangeraak in die kombuis sien staan.” In die gang het Van Blerk Jeyes Fluid begin ruik. “Toe ek in my en Michelle se slaapkamer kom, lê Anna se lyk daar op die vloer aan my kant van die bed. Haar onderlyf was kaal en haar hande en voete vasgebind. “’n Handdoek was oor haar gesig gegooi. Daar was baie bloed. Ons vermoed haar moordenaars het haar al vroegoggend ingewag.” Wageng het sowat ’n jaar vir die Van Blerks gewerk. Sy was nie getroud nie en haar familie en kinders woon in Viljoenskroon in die Vrystaat. Van Blerk het gister gesê hy het steeds die “ritteltits” en sy vrou is in ’n toestand. “Ons jongste seun, Conrad (10), is vanoggend huilend skool toe.” Die Van Blerks het die bed waarop Wageng vermoedelik verkrag is, weggegooi. “Ons het die hele Saterdag huis geskrop en die naweek feitlik niks geslaap nie,” het Van Blerk vertel. Onder meer selfone, rekenaars en elektroniese speletjies is gesteel. Emile het verlede week twee rowers by die bure se huis betrap voordat hulle weggehardloop het. “Ons wonder nou of dit nie die moordenaars was nie,” het Van Blerk gister gesê. Weefsel gevreet ’n Nadoodse ondersoek wat vandag gedoen word, sal bepaal wat Wageng se dood veroorsaak het. Prof. Linda Brand, vakhoof van farmakologie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, het gesê Jeyes Fluid is ’n sterk irritant wat weefsel kan wegvreet. Volgens haar kan naarheid, braking en hoofpyn voorkom. “Die slagoffer kan ook asemhalingsprobleme en stuiptrekkings kry, wat potensieel dodelik kan wees, afhangend van die hoeveelheid en konsentrasie van die irritant. Dis ’n pynlike ervaring,” het Brand gesê. Selfs net die inaseming van irritant-dampe kan lei tot hoofpyn, duiseligheid en vinnige asemhaling. ’n Forensiese patoloog wat om professionele redes nie sy naam mag noem nie, het gesê Jeyes Fluid rig skade van die lippe tot in die maag aan. “Dit veroorsaak chemiese brandwonde wat by die lippe begin, in die lugpyp en tot in die maag voortgaan. Die gewoonlik sagte weefsel verhard, verbleek en kan nie meer normaal funksioneer nie.“ Volgens die patoloog kan middels soos Jeyes Fluid selfs deur die maagwand vreet, die liggaam dieper binnedring, die res van die liggaam vergiftig en tot die dood lei.

No comments:

Post a Comment