Monday, August 27, 2012

G’n klank uit keel toe hy hulp soek

Brett Horner Durban. – Hy wou om hulp roep, maar een van die rowers se koeëls het hom in die nek getref en geen klank het uitgekom nie. As dit nie was vir die vasberade geaardheid van Davey du Plessis (24), ’n avonturier van Umhlanga nie, sou hy dalk in sy opvoubare kajak op die Ucayalirivier in Peru, een van die Amasone se grootste vertakkings, gesterf het. Du Plessis was Saterdagmiddag alleen in die kajak in die Suid-Amerikaanse oerwoud toe die rowers toegeslaan het. Hy het probeer om die eerste bevestigde en selfgedokumenteerde solovaart van die hele 6 500 km van die Amasonerivier te onderneem. Hy sou dit volg van die oorsprong in Andes tot waar dit in Brasilië in die Atlantiese Oseaan uitmond. Die tog het op 1 Julie begin en sou na verwagting tot Desember geduur het. Die doel was om aandag op die beskerming van die natuur te vestig. Hy is Saterdag omstreeks 11:00 (Suid-Afrikaanse tyd) aangeval. Du Plessis het redelik na aan die wal gehou omdat die kajak nie waffers was nie. Dít het ’n geleentheid vir sy aanvallers geskep. Hy is verskeie kere sonder waarskuwing geskiet. Du Plessis het van sy aanvallers gevlug, al sy krag bymekaargeskraap en 5 km ver deur die woud gesukkel met wonde aan sy kop, nek, rug, buik en arms. Robyn Wolff, sy ma wat in Umhlanga woon, het gister gesê haar seun gooi nie maklik die handdoek in nie. “Jy verstaan nie dié kind nie. Hy is nie normaal nie. Hy het die hart van ’n leeu,” het sy gesê. Wolff het gesê die rowers het Du Plessis gestroop van bykans R100 000 se toerusting, waaronder ’n satellietfoon. Du Plessis het uiteindelik op ’n dorpie aan die ander kant van die rivier afgekom en wou om hulp roep, maar weens sy nekwond het geen klank uitgekom nie. Toe inwoners hom uiteindelik teëgekom het, het hulle eers sowat ’n uur lank op geld aangedring. Hy het eers hulp gekry toe hy bloed begin opbring het. Hy is in komberse toegedraai en per boot na Pucallpa, sowat vier uur weg, geneem, het Wolff gesê. Sy het eers 16:00 eergister van haar seun se ontberings te hore gekom toe ’n man, wat hom as Darwin geïdentifiseer het, haar gekontak het. Sy het gesukkel om hom te verstaan. Sowat ’n uur later het Du Plessis haar danksy ’n dokter se telefoon in die hande gekry. Sy het met behulp van sy mediese versekeringsmaatskappy ’n vlug na ’n hospitaal in Lima, Peru, gereël. Daar sal op hom geopereer word sodra hy sterker is. Amptenare van die departement van openbare betrekkinge het gisteraand probeer om die voorval te bevestig.

No comments:

Post a Comment