Sunday, August 12, 2012

Here was genadig, sê boer ná aanval

Jana van der Merwe “EK besef nou dat die Here vir ons baie genadig was. Menslik gesproke was dit nie moontlik vir iemand om met hierdie wond en ná daardie trauma so ver te kon loop nie – enige mens sal dit vir jou sê. Daar ís ’n God.” Só het Annalize Neethling, vrou van Johann Neethling (56) van Smithfield, gister langs haar man se bed in die Mediclinic Bloemfontein gesê. Johann, ’n vooraanstaande veeboer en voorsitter van die Smithfield-boerevereniging, is Dinsdagnag in die maag asook verskeie kere in en onder die regterarm gesteek toe hy vier veediewe naby sy plaas gekonfronteer het. Hy het kilometers ver na sy seun Johann jr. se plaas geloop om hulp te kry. Sy maagwond was hul grootste bekommernis. ’n Stuk van Neethling se dunderm is in ’n operasie verwyder nadat dit deur die meslem van sy aanvallers beskadig is. “Ek is oukei. Darem was dit net ’n Okapi-knipmessie,” het Neethling gister moedig gesê. Hy sê hy het nie besef hy is raakgesteek totdat hy by sy seun se plaashuis aangekom en die bloed op sy klere gesien het nie. Die egpaar vermoed die dik skaapwolbaadjie wat hy weens die koue aangehad het, het waarskynlik sy lewe gered. “Ons keer baie voertuie voor. Dit is gewoonlik nie ’n probleem nie. “Ek het hulle vir hul karsleutel en lisensie gevra en die kattebak probeer oopmaak. Ek kon dit nie oopkry nie.” “Ek het gou besef ek het nonsens aangejaag toe die vier diewe begin kwaad raak. “Toe ek weer sien, toe rol hulle my, toe rol ons mekaar. Alles het so vinnig gebeur.” Die egpaar vermoed die vreemdelinge was daar om reeds vasgemaakte skape op te laai en dat plaaslike mense die skape gesteel en tot op die plek gebring het waar Johann gesteek is. Neethling sê veediefstal is ’n groterwordende probleem in die omgewing. Voorheen het veediewe nie baie hier gepla nie. Hy meen veediewe slaan nou al hoe meer hier toe “omdat al die vee om Bloemfontein reeds gesteel is”. Hy sê swak kommunikasiemiddele is ’n krisis en hulle moet met radio’s klaarkom. - Volksblad

No comments:

Post a Comment