Monday, August 27, 2012

Vrou in koma ná klip haar tref

Maryke Swart Clocolan. – ’n Afgetrede vrou (67) van ’n plaas in die distrik was gister teen druktyd steeds in ’n koma nadat oproermakers haar in haar bakkie met ’n klip in die gesig gegooi het. Isabel Hugo (67) en haar dogter, Elsabe (27), was gister vroegoggend van die plaas Daisy af op pad dorp toe, toe hul bakkie buite die dorp deur oproermakers omsingel is. Die oproeriges het Hugo deur die oop motorruit met ’n klip teen die kop gegooi. Sy het haar bewussyn verloor en die bakkie is van die pad af en in die veld in. Sy is per ambulans na Bethlehem vervoer en gistermiddag met ’n helikopter na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gebring. Mondli Mvambi, hospitaalwoordvoerder, het gesê sy het ernstige kopbeserings en is in ’n koma. Jannie Hugo het gesê sy vrou en dogter was op pad om die bakkie te laat herstel sodat hulle na Brandfort kon ry. Elsabe, wat met varke boer, wou na huurgrond op Brandfort gaan kyk. Oproermakers het gister weer die paaie na Marquard en Excelsior met klippe en doringdraad versper en verbygaande motors onder klippe gesteek. Die onrus woed van verlede week af toe die Setsoto-munisipaliteit ’n klag van betreding by die polisie ingedien het teen mense wat plakkershuise op munisipale landbougrond begin oprig het. Die munisipaliteit verhuur dié grond aan ’n boer van Marquard, Wessel Wessels. Betogers het gister na die landdroshof opgeruk om hul steun te wys aan 82 oproermakers wat verlede week hier weens openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is. Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog gearresteer weens die klipgooiery waarin Hugo beseer is nie.

No comments:

Post a Comment