Thursday, September 6, 2012

‘Toe skiet hulle haar’

Louise Ferreira ’n Gr. 8-leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp is dood en haar pa en suster gewond toe die gesin op hul hoewe in Muldersdrift aangeval is. Alyssa Botha (13) is in die maag geskiet en haar suster, Megan (17), ’n gr. 11-leerling aan dieselfde skool, is in die bene gewond. Hul pa, Anton, is in die maag geskiet. Sy een nier en ’n deel van sy lewer en dikderm moes verwyder word. Hy is in ’n bestendige toestand in die waaksaal van die Krugersdorp-hospitaal, waar sy vrou, Liesl, hom bygestaan het. Megan het in ’n handgeskrewe verklaring vertel wat gebeur het nadat sy, haar pa en suster Woensdagaand omstreeks 19:00 by die huis gekom het. “Ons was besig om ons skooltasse uit die kar te haal toe vier of vyf mense ons oorval het.” Die rowers het op mekaar geskree in ’n taal wat sy nie verstaan nie. Die rowers het hulle nie vir enigiets gevra of opdragte gegee nie. “Ek het my hande in die lug gesteek en vir hulle gesê my foon is in my sak en Alyssa het dieselfde gedoen. Hulle het ’n skoot afgevuur en my suster het geval en geskree. Ek het haar gegryp om haar te beskerm en hulle het haar geskiet. “Hulle het my omtrent 5 m van die kar gesleep en my geskiet. Hulle het my sak van my skouers afgeruk en my weer geskiet terwyl ek op die grond gelê het.” Al die aanvallers het weggehardloop behalwe een wat na Anton, wat nog in die motor was, gegaan het, het Megan geskryf. “Hy het sy een foon gevat en probeer om die tweede foon ook te vat, maar my pa het dit teruggegryp. (Die rower) het my pa toe in die maag geskiet. Iemand het gefluit en die man het gevlug. “Ek het na my suster gekruip en haar vasgehou.” Die rowers het net die selfone gevat. Liesl het vir hulp gebel en nooddienspersoneellede het Megan en Anton na die hospitaal geneem, maar Alyssa se toestand was aanvanklik te kritiek om haar te beweeg. Volgens kapt. Pinky Tsinyane, polisiewoordvoerder, is sy later by die hospitaal dood. Rinus de Jager, woordvoerder van die Hoërskool Monument, het gesê die skool het reeds gisteroggend sewe beraders gekry om die gr. 8-leerlinge en ander leerlinge wat hulp nodig het by te staan. Megan het geskryf haar suster wou graag vir die nasionale hokkiespan speel. Tsinyane het gesê die verdagtes is steeds soek. Sy het gevra dat enigiemand met inligting die polisie by 08600 10111 bel.

No comments:

Post a Comment