Wednesday, September 19, 2012

Keelwond eis man toe hy van rowers vlug

’n Sakeman van Middelburg het hom gister doodgebloei toe hy met ’n gapende wond aan sy keel uit sy huis wou vlug. Toe die polisie Johannes Jacobus (Jan) du Toit (68) se lyk by die kombuisdeur van sy huis in Louis Botha-rylaan kry, was ’n bebloede handdoek steeds om sy nek. Beeld verneem hy het dié handdoek self om sy nek gedraai om die bloeding te probeer stop nadat hy in ’n verbete geveg met twee rowers was wat omstreeks 04:00 ingebreek het. Du Toit het glo ’n lawaai in die huis gehoor en hom in die sitkamer in twee inbrekers vasgeloop. Hy het met hulle gestoei en glo ’n aanvaller op die grond vasgepen en twee skote met sy rewolwer geskiet. Die aanvaller se makker het Du Toit toe glo van agter getakel en met ’n mes in die nek gesteek. Du Toit se vrou, Marietjie (65), het ’n snywond aan die oor opgedoen en is deur ’n aanvaller met die kop in die gesig gestamp. Die snywond is in die Medmid-hospitaal geheg en sy is al ontslaan. Die moordenaars het met mnr. Du Toit se selfoon en sy .38-rewolwer gevlug. Inwoners van Louis Botha- rylaan het ondersoek ingestel toe hulle die skote hoor. Hulle het ’n aanvaller oor die tuinmuur gesien spring en hom vergeefs agternagesit. Die gesteelde selfoon was ná die moord nog aktief en ’n man het die foon verskeie keer beantwoord. Twee pette wat blykbaar aan die verdagtes behoort, is ook op die toneel gevind. ’n Man is gistermiddag deur die polisie vir ondervraging ingeneem, maar is teen druktyd nog nie aangekla nie. ’n Betroubare bron het aan Beeld gesê die moontlikheid word ondersoek dat dié ’n wraakaanval was. Du Toit, wat betrokke was by ’n vervoermaatskappy in Middelburg, het glo vroeër dreigemente gekry. Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, wou hom nie uitlaat oor dié bewerings nie. Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, word gevra om kol. Philla Mahlangu by 0?076?942?5455 te bel.

No comments:

Post a Comment