Monday, September 10, 2012

Oues ‘soos skape geslag’

Pieter Steyn Trompsburg. – Tonele van verslaenheid en hartseer het gister op die plaas Knoppe afgespeel nadat ’n boer en sy vrou wat “twee keer sou dink om ’n vlieg dood te maak . . . soos skape geslag is”. Johan (71) en Cecile Fourie (72) is eergister in hul plaashuis oorval en vermoedelik met ’n byl doodgekap. Bloed het matte, teëls, mure en deure dwarsdeur die huis bevlek. In die sit- en slaapkamer van die huis het bottels drank gestaan wat die moordenaars gedrink het terwyl die Fourie- egpaar die oggenddiens in die NG kerk op die dorp bygewoon het. Die moordenaars het vermoedelik deur ’n badkamervenster by die huis ingekom en die bejaarde egpaar ingewag terwyl hulle in die kerk was en by hul kinders op die dorp gekuier het. Die Fouries het omstreeks 15:00 teruggekeer na hul plaas sowat 10 km buite die dorp. Die egpaar se lyke is omstreeks 20:00 in hul slaapkamer gekry. “Dit is my pa, hy is doodgemaak . . . wat kan ek sê?” het ’n getraumatiseerde Louis-Chris Fourie gesê toe hy met ’n dra­sak vol van sy ouers se besittings uit die moordhuis gestap het. Phillip Henning, ’n boer in die distrik wat ’n plaasaanval oorleef het, het gesê: “Johan was ’n ou wat twee keer sou dink voordat hy ’n vlieg sou doodmaak. Hulle was wonderlike mense.” Volgens Fanie Lubbe, ’n buurman, wou die egpaar almal altyd help. So ’n moord laat ’n mens weer eens besef hoe weerloos boere is, het Lubbe gesê. “ ’n Mens raak ouer. Jy het nie meer die krag van ’n jonger man nie. Wat doen jy as hulle (aanvallers) jou inwag?” Nico Kruger, ’n ander seun van die Fouries, het gesê die wreedheid van die moord is erg. “Dis buitensporig. Dit slaan ’n ou dronk. Wat sou die motief wees?” Net ’n .22-rewolwer word vermis. Die moordenaars het die vuurwapenkluis met ’n hoeksnyer oopgesny. Fourie se ander vuurwapens en ’n mes is op die toneel gekry. Bure het onraad vermoed toe die Fouries nie hul telefoon beantwoord het of op die roep oor die Marnet-radio gereageer het nie. Die polisie volg verskeie leidrade op, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die Fouries word oorleef deur hul twee seuns, ’n dogter, Christa van Heerden, twee skoondogters, ’n skoonseun en ses kleinkinders.

No comments:

Post a Comment