Sunday, September 9, 2012

Man aangeval op N1 terwyl hy band omruil

PAARL. – ’n Jong Paarliet sê hy is dankbaar om nog te leef nadat drie mans hom Vrydagaand aangeval en twee keer raakgesteek het. Adriaan Smit (23), ’n siviele ingenieurstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Bellville-kampus en ’n Westelike Provinsie-bergfietsryer, het vertel hoe hy die betrokke aand omstreeks 22:00 deur die verdagtes langs die N1 naby Bloekombos aangeval is. Hy was op pad huis toe nadat hy by vriende in Bellville gekuier het toe hy ’n pap band gehad het. Hy het langs die pad – naby die Engen-vulstasie op die N1 – stilgehou om dit om te ruil. “Die band het net onder die brug voor die vulstasie gebars. Ek het tot by ’n veilige plek gery en afgetrek. “Ek het die spaarwiel uitgehaal, maar toe is daar skielik ’n mes teen my keel. “Hulle het gevra dat ek in die motor klim, maar ek het geweet as ek dit doen gaan ek dood,” het Smit gister by sy ­ouerhuis vertel. Smit is van agter in die nek gesteek. Hy het een van die mans se wapens – ’n panga – afgeneem. Benewens die nekwond is Smit ook in sy hand gesteek en is hy ook amper in die heup gewond. “Ek kon sien hoe die bloed op die teerpad drup en het in die middel van die pad gaan staan en gekyk hoe hulle my motor leeg steel.” Smit se klere, selfone, boeke, beursie en bergfiets van sowat R30000 is uit die voertuig gesteel. Daar was redelik baie motors op die snelweg, het hy gesê. Drie onbekende mans het stilgehou en een van die verdagtes agternagesit. Een van hulle het vir Smit gesê hy het die verdagte tydens ’n stoeiery raakgesteek. Die drie samaritane kon daarin slaag om sy peperduur fiets terug te kry. Die aanvallers het egter gevlug. Die polisie en ’n ambulans het kort daarna opgedaag. Smit is na die Mediclinic Paarl gebring en het vier steke in sy nek en een in sy arm ontvang. Hy is nie in die hospitaal opgeneem nie. Hy het die voorval Saterdagoggend by die polisie in Kraaifontein aangemeld. Ao. November Filander, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van gewapende roof word ondersoek. - Die Burger

No comments:

Post a Comment