Monday, September 24, 2012

Atleet geskiet

Die voormalige hekkieskampioen Karen Wilkinson (nou Harmse) is Vrydagaand in die skouer geskiet en erg aangerand tydens ’n plaasaanval naby Rustenburg. Harmse was in die 1990’s die Suid-Afrikaanse en Afrika-rekordhouer in die 100 m-hekkies en het aan die Olimpiese Spele in Atlanta deelgeneem. “Alles het so vinnig gebeur, jy dink nie,” het sy gister vertel nadat sy uit ’n Rustenburgse hospitaal ontslaan is. “Ek sien dit oor en oor in my gedagtes gebeur.” Harmse is die tweede Suid-Afrikaanse sportlegende wat die afgelope naweek ’n slagoffer van misdaad geword het. Die voormalige bokskampioen Corrie Sanders is dood nadat hy Saterdagaand tydens ’n gewapende rooftog naby Brits geskiet is. Nols de Wet, Harmse se lewensmaat, het gister vertel hulle het ’n aanval op hul plaas, Rietfontein, gevrees nadat die gesin se honde verlede Woensdag vergiftig is. Die honde kon gered word. Een, Lilo, het boonop ’n kopskoot tydens Vrydagaand se aanval oorleef. ’n Gewapende man het omstreeks 20:00 op Harmse (46) afgestorm toe sy uit haar motor by die plaashuis klim. Hy het op haar geskiet en onder meer vir haar selfoon gevra. “Ek het die selfoon in die bosse gegooi om hom uit die huis te hou. Hy het my met die geweer oor die kop geslaan. Toe hy my in die huis laat platlê, voel ek my skouer wil nie beweeg nie. Eers toe ek die koeëlgat voel en die bloed sien, het ek besef ek is geskiet.” De Wet was in die huis toe Harmse buite oorval is. “Ek het skote gehoor en hoe sy gil.” ’n Skoot wat deur een rower – daar was vermoedelik vyf – afgevuur is, het terselfdertyd deur die skuifdeur gebars en Lilo in die bek getref. Die rowers het De Wet, Harmse se pa, Kenny Wilkinson, en haar twee tienerkinders, Sheldon (15) en Amber (13), op die vloer laat lê. “Toe kom nog ’n rower met sy geweer teen Karen se kop in. Sy het erg gebloei,” het De Wet vertel. Terwyl die gesin aangehou is, het die ander rowers rekenaars, beursies en selfone gesteel. Hulle is weg met Harmse se Toyota Fortuner en De Wet se Toyota Hilux-bakkie. “Alles was binne 15 minute verby,” het De Wet gesê. Volgens hom teister vermoedelik dieselfde groep rowers boere in die omgewing die laaste paar weke al. Daar was onder meer inbrake en nog ’n gewapende rooftog. Dieselfde voetspore is telkens gevind. Harmse moes steke in haar gesig en kop kry. Die koeël is regdeur haar skouer. Been, ligamente en spiere is beseer. Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof en huisbraak. Niemand is nog gearresteer nie.

No comments:

Post a Comment