Monday, September 10, 2012

Hoewe-moord: Bekentenis bly

Jeanne-Marié Versluis ’n Beskuldigde in die moord op ’n 64-jarige man van Cullinan het in ’n bekentenis voor ’n landdros erken hy het aan sy slagoffer se vrou gevra wat haar laaste woorde is. Mphanyana Given ­Kanyane se bekentenis is in die hooggeregshof in Pretoria toegelaat as getuienis teen hom. Hy, Mduduzi Sbusiso ­Hlengethwa en Wonder Mbongezini Makwakwa het Piet van den Berg glo op 11 Julie 2009 op sy Boekenhoutkloof-hoewe doodgeskiet en die egpaar se huis aan die brand gesteek. Madelein van den Berg het vroeër getuig haar lewe is hierdeur “totaal en al geruïneer. My huwelik van 40 jaar met ’n baie goeie, liewe man is vernietig.” Luidens Kanyane se betekenis het hy en “Wonder” besluit om ’n wit man te beroof. “Mduduzi” het aan hulle gesê hy beroof mense “vir ’n ­lewe” en het ’n vismes. Hulle is na die “wit man” se huis. Toe die wit man uit die huis kom om bierbottels weg te gooi, het hulle hom aangeval. Volgens Kanyane moes Mduduzi die vuurwapen vashou. Dit het geklink of die wit man besig was om los te kom. Die volgende oomblik was daar ’n skoot. Hy het die wapen by Mduduzi, wat gesê het die wit man het homself losgemaak, gegryp. Kanyane het in die bekentenis gesê hy het die wit man se vrou gaan haal. Sy het gevra waarom haar man geskiet is. Hy het gesê dit is omdat haar man homself losgemaak het. Kanyane het egter nie in sy bekentenis gesê of Van den Berg vasgemaak was nie. Volgens Kanyane het hy die vrou die kluis se sleutel gevra. Hy het die kluis oopgemaak en die inhoud in ’n sak gegooi. Mduduzi het die vrou in ’n kas toegemaak. Hy (Kanyane) het toe die wit man se klere begin aantrek. Volgens Kanyane het hy na die kas gegaan en die vrou gevra wat haar laaste woorde is. Sy het geantwoord sy wil hemel toe gaan. Later het hulle brandewyn gedrink wat hulle in die huis gekry het en buitelandse geld (hy weet nie watse geld dit was nie) by ’n bank probeer wissel. Hy het lank vir die polisie weggekruip. Ná hul arrestasie het Mduduzi gesê hulle is opgespoor deur die wit man se selfoon wat in Mduduzi se besit gekry is. Mev. Van den Berg het ­vroeër getuig sy het “begin stamp” om uit die kas te kom. Toe sy uit is, het sy vlamme op die bed geblus, asook ’n groot hoop brandende papiere langs haar man se lyk. Sy het haar man vergeefs uit die huis probeer sleep en toe met die bakkie na die buurman gejaag. Dié en sy werkers het haar man toe kom uithaal. Die verhoor duur voort.

No comments:

Post a Comment