Sunday, September 16, 2012

Egpaar, baba se lyke gevind

WARDEN. – ’n Chinese winkel­eienaar, sy vrou en hul babadogtertjie se lyke is gisteroggend in hul winkel op dié dorp gekry nadat hulle vermoedelik met kapmesse vermoor is. Die egpaar se driejarige seun het die treurspel oorleef. Hy is op ’n bed langs sy vermoorde sussie gekry waar hy histeries gehuil het. Long Liang Chen (31), beter bekend as Konka, sy vrou, Li-ping (24), en hul baba, Xiao-nan (16 maande) se lyke is gisteroggend deur familielede in hul winkel, Konka Store, gevind. Die Chens het in hul winkel in die hoofstraat gebly. Die gesin was baie bekend op die dorp. Die motief vir die grusame moorde was gister nog duister. Die polisie kon nog nie vasstel of iets uit die winkel of huis vermis word nie. Op die dorp is gister bespiegel dat die Chen-egpaar dalk in ’n huurmoordaanval vermoor is. Chen se suster, Helen, sê hulle het omstreeks 08:30 onraad vermoed toe hulle nie die Chen-egpaar op hul fone in die hande kon kry nie. Hulle het na die winkel geloop en gesien die deur staan oop, hoewel die hek gesluit was. “Ons het geroep en hulle probeer bel, maar daar was geen antwoord nie,” het sy gesê. Hulle het om die winkel gestap en gesien Chen se bakkie staan daar. Haar pa en broer het ’n venster gebreek, waarna hulle Chen op die vloer sien lê het. “Ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie. Ek het weggehardloop, want ek was bang. Toe ek later terugkom, het ek op sy vrou afgekom. Ek het haar geskud, maar sy het geen reaksie getoon nie,” het Helen gister gesê. Klein Xiao-nan se lykie is op die bed gekry. Sy het kapwonde aan haar kop gehad. Helen sê die egpaar se driejarige seun het histeries op die bed naby sy sussie gesit en huil. Sy kop was onder die komberse weggesteek. Daar word vermoed dat hy tydens die aanval geslaap het. ’n Inwoner op die dorp sê die Chens en hul familie, wat verskeie algemene handelaarwinkels op die dorp bedryf, was alombekend. “Ons het altyd ons goed daar gaan koop,” het hy gesê. Sers. Tshegofatso Modise, polisiewoordvoerder, sê nog niemand is in verband met die moorde in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting word gevra om kapt. N.D Moshoabuda by 082-854-7540 te bel. - Volksblad

No comments:

Post a Comment