Thursday, September 6, 2012

Man met sy eie graaf vermoor

Fanie van Rooyen Die 66-jarige man wat eergisteroggend op sy hoewe by Brits deur vier rowers oorval is, het “soos ’n besetene baklei” om sy vrou te beskerm voordat hy met een van sy eie grawe doodgeslaan is. Só het Ina Hattingh (45) gister gesê oor die moord op haar broer, Mauritz Oberholzer (66), wat saam met sy vrou in hul slaapkamer by Zoutpansdrift, naby Brits, oorval is. “Mense sê altyd as iemand dood is dat die persoon ’n wonderlike mens was, maar in Mauritz se geval is dit regtig die waarheid,” het Hattingh gesê. “Hy was vir my meer soos ’n pa as ’n broer.” Oberholzer en sy vrou, Rita (62), het wakker geword toe hulle stemme gehoor het. “Daar was toe reeds twee rowers buite die slaapkamerdeur. Hulle het die voordeur se diefwering afgebreek en ’n glasdeur stukkend geslaan.” Rita het vir haar man gesê om die paniekknoppie te druk, maar dit het nie onmiddellik afgegaan nie. “Die volgende oomblik het nóg ’n rower, wat buite die slaapkamervenster in die tuin was, deur die venster op Rita geskiet. “Sy het na die badkamer gehardloop en die deur toegetrek. Mauritz het vir haar geskree hy is in die voet getref en sy moet om hulp bel.” Die badkamerdeur was op ’n skrefie oop en Rita het gesien hoe die rower wat buite was deur die venster by die slaapkamer in- val. ’n Vierde rower het daarna ook ingekom. “Hulle het soos ’n spul honde op Mauritz toegesak en hy het soos ’n besetene teen hulle baklei om Rita te beskerm, al was hy nie gewapen nie,” het Hattingh gesê. “Die vier rowers het Mauritz al stryende na die sitkamer gesleep. Dis daar waar hulle hom toe met een van sy eie grawe doodgeslaan het.” Die rowers het ’n kluis met twee gewere uit ’n muur gebreek en met die kluis en ’n selfoon weggekom. “Hulle het nie vrae gevra nie, hulle het net geskiet.” Oberholzer laat sy vrou en vier volwasse stiefkinders, Suzette, Dawie, Wallie en Hennie, agter. Die polisie het enigeen met meer inligting oor die voorval of oor waar die aanvallers is, gevra om die Brits-polisiekantoor by 012 381 6035 te bel.

No comments:

Post a Comment