Thursday, September 27, 2012

Houe by spoedlokval

Middelburg. – ’n Groep verkeersbeamptes het ’n 52-jarige man glo “soos ’n trop wolwe” aangerand terwyl sy vrou en 17-jarige seun toegekyk het. Deon Coetzer, wat vier maande gelede ’n rugoperasie ondergaan het, het vertel die beamptes het eergister ’n spoedlokval reg voor sy huis in John Magagula-straat opgestel. “Ek het by my huis aangekom om dringend dokumente te kry. ’n Motor wat voorgekeer is, het in my oprit gestaan.” Coetzer het aan die motoris en ’n verkeersbeampte gesê om die motor te skuif. Die beampte het glo gesê hy moet wag omdat die grond (die oprit) “aan die regering” behoort. “Ek het uitgeklim en was op pad om my hek met die afstandbeheerder oop te maak toe ’n beampte die bos sleutels uit my hande gegryp het. Ek het hom aan sy trui getrek, maar hy het met my sleutels weggehardloop. Ek het agter hom aangehardloop en hom weer aan die trui probeer pluk. Hy het omgedraai en na my geslaan.” Volgens Coetzer het hy toe omgedraai en weggestap, maar die beampte het hom weer probeer slaan. ’n Ander beampte het albei gekalmeer. Coetzer se vrou, Jane, en seun, Bertus (17), het intussen uit die huis gehardloop. “Die volgende oomblik het iemand weer aan my skouer gevat,” het Coetzer gesê. “Ek het die hand weggeklap en die volgende oomblik was daar ’n klomp beamptes bo-op my. Die een het my tussen my bene opgetel en onderstebo op die grond neergegooi. Hulle het my begin slaan, op my gespring en my tussen my bene geskop. Hulle het my een hand geboei en daarop gaan staan.” Nog beamptes het opgedaag. Magda van der Merwe, wat daar verby gery het, het vertel: “Ek het in ’n stadium agt beamptes getel wat die man om die beurt geskop en geslaan het. In ’n stadium het een van die beamptes op die man se kop gespring. Hulle het soos ’n trop wolwe te kere gegaan.” Coetzer is toe in ’n vangwa gegooi. Sy vrou het nader gehardloop om met hom te praat. “Ek en Bertus het Coetzer probeer help, maar hulle het ons net weggestamp. Een van die vroulike verkeersbeamptes het vir my gesê dat ek nie die nag sal oorleef nie en dat ek niks daaraan kan doen nie omdat die regulasies haar beskerm. Ons leef nou in vrees.” Coetzer is na die Middelburg-polisiekantoor geneem waar hy op borgtog van R500 vrygelaat is. Hy het gister in die hof verskyn op aanklagte van die belemmering van verkeersbeamptes in die uitvoering van hul pligte, aanranding, crimen injuria en verset teen arrestasie. Die verrigtinge is uitgestel. Coetzer het klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en diefstal aanhangig gemaak.

No comments:

Post a Comment