Monday, September 24, 2012

’n Held tot die einde

Corrie Sanders is geskiet terwyl hy sy tienerdogter in ’n restaurant teen rowers wou beskerm. Die boksheld is vroeg gisteroggend in die Kalafong-hospitaal buite Pretoria dood. Sanders (46), voormalige swaargewig-bokskampioen van die wêreld, het eergisteraand in die restaurant buite Brits bo-oor sy 15-jarige dogter, Mari­nique, gaan lê. Hy het vir haar gefluister: “Maak of jy dood is, my kind.” Kort daarna het een van die drie rowers Sanders in die maag geskiet. “Corrie was ’n held vir die wêreld en hy is as ’n held dood, want hy het my kind se lewe gered,” het Sunette Sanders (47), sy voormalige vrou, gesê. Sy was by toe hy geskiet is. “In die ambulans het Corrie die hele tyd vir my gesê ek moet die kinders huis toe vat, want hy wil nie hê hulle moet hom só sien nie.” Sanders was eergisteraand saam met haar, hul dogter en hul 11-jarige seun, Dean, by die Thatch Haven Country Lodge-restaurant om die 21ste verjaardag van sy broer, Mike, se seun Michael te vier. Dean verjaar Vrydag. 48 lede van die Sanders-familie en die familie van Michael se vriendin was in ’n boma byeen, het Mike gister gesê. “Ons het omstreeks 19:00 klaar gebraai en was reg om te begin eet. “Corrie, Marinique en my middelste seun, Morné (19), het opgestaan om te gaan inskep. Hulle het verby die ingang van die boma gestap en die volgende oomblik het vier of vyf skote geklap. “Drie gewapende mans het ingestorm en geskreeu ons moet plat lê en ons selfone en beursies uithaal,” het Mike gesê. Morné het onder die kostafels ingespring en Corrie het platgeval en bo-oor Marinique gaan lê. “Die rowers het selfone, beursies en goed gegryp en heeltyd wild in die lug en die grond geskiet dat die klippe spat. “Hulle het seker 30 skote geskiet; dit was soos ’n oorlog. Ek kon nie glo wat gebeur nie.” ’n Motoralarm het afgegaan wat die rowers laat skrik het. Hulle het gevlug. “Dit het skielik net stil geraak. Eers toe Corrie bly lê, het ons besef hy is geskiet. Een van die koeëls het dwarsdeur sy regterarm gegaan en hom in die maag getref.” Paramedici het Sanders vir ’n noodoperasie na die Kala­fong-hospitaal geneem. Hy het gisteroggend omstreeks 04:00 aan sy wonde beswyk. Sanders was betrokke by die organisasie Shout SA, wat hom vir ’n veiliger Suid-Afrika beywer. Die sanger Danny K, medestigter van Shout SA, het gesê Sanders het onlangs weer aan ’n gholfdag deelgeneem waar geld vir ’n township-biblioteek ingesamel is. Mike het gistermiddag gesê sy broer was ’n “groot man met ’n baie klein hart”. “Min mense het dit besef. Hy sou nooit iemand buite die kryt leed aangedoen het nie. Hy was verskriklik lief vir sy kinders. Hy was my enigste broer en ek gaan hom geweldig mis.” Sunette het gesê Sanders was haar kinders se held. “Dis vir hulle baie swaar. Marinique het gesê haar pa gaan nou nie haar matriek­afskeidrok sien nie en Dean wil so graag môre vir sy pa deelneem aan die proewe van die Northern Titans se o.12-krieketspan, maar ek weet nie of hy sal kan nie.” Sanders het in 2003 die Wêreldboksorganisasie se wêreldkampioen geword toe hy Wladimir Klitscko van die Oekraïne met ’n tegniese uitklophou verslaan het. Hy was sowat ’n jaar lank kampioen.

No comments:

Post a Comment