Sunday, September 9, 2012

Dubbele plaasmoord skok Trompsburg-gemeenskap

Pieter Steyn TROMPSBURG. – Skok en ongeloof heers in die boeregemeenskap hier ná ’n dubbele moord gister op ’n boer en sy vrou. Johan Fourie (71) en sy vrou, Cecile (72), ’n bekende en geliefde boere-egpaar, het gister omstreeks 15:00 ná middagete by hul seun en skoondogter op die dorp na hul plaas Knoppe teruggekeer. Volksblad het betroubaar verneem die Fouries is gister kort voor 20:00 dood in hul slaapkamer in hul plaashuis gekry. Hulle het albei skietwonde gehad. Volgens ’n ingeligte, wat nie sy naam genoem wil hê nie, was die vuurwapenkluis oopgebreek. Hy sê daar was baie bloed van die sitkamer tot in hul slaapkamer. Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers het vermoedelik deur ’n badkamervenster toegang tot die plaashuis verkry. Volgens die ingeligte wil dit voorkom asof die aanvallers die egpaar ingewag het. Na verneem word, het die boere in die omgewing onraad vermoed toe die Fouries nie hul telefoon beantwoord het of op die roep op die Marnet-radio gereageer het nie. “Die boere in dieselfde omgewing roep mekaar op ’n spesifieke tyd elke aand. “Hulle doen dit om seker te maak almal is veilig.” Van die boere het ondersoek ingestel nadat geen reaksie van die Fouries gekry is nie en het op die lyke van die egpaar afgekom. Inwoners van die dorp was gisteraand baie geskok. “Hulle was baie vriendelike mense wat nie ’n vlieg sou skade berokken nie. Die hele dorp is geskok.” Nagel sê twee klagte van moord word ondersoek.

No comments:

Post a Comment