Sunday, September 9, 2012

Kommer, toe ouers se lyke

’n Pretoriase man het op die lyke van sy vermoorde ouers in hul huis in Morning­side, Sandton, afgekom nadat ’n bekommerde vriendin hom gevra het om te gaan kyk wat aangaan. Ryno Greeff het gister aan Beeld gesê ’n goeie vriendin van sy ouers, Bets en Gawie (albei 79), het hom Vrydag gebel nadat hulle nie vir middagete by die Johannesburgse buiteklub opgedaag het nie. “Sy het gesê daar moet fout wees, want hulle is nooit so laat vir afsprake nie.” Hy het van sy huis in Pretoria na sy ouers se huis gery. Volgens Greeff was die huis toegesluit toe hy daar aankom. Hy het ’n sleutel en het ingegaan. “Ek het by die slaapkamer ingeloop en my ma se lyk op die vloer gekry. Haar hande en voete was vasgebind en haar mond was met ’n plastieksak toegebind.” Hy het toe na sy pa gaan soek en hom in sy werkwinkel by die huis gekry. “Sy hande, voete en mond was nes my ma s’n gebind. Ek dink hy het die aanvallers daarheen geneem om hulle van my ma weg te kry.” Greeff het die polisie ontbied en hulle het binne minute daar aangekom. Kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, het gesê die oorsaak van hul dood en die motief is nog nie bekend nie. Klagte van moord en huisbraak word ondersoek. Die aanvallers word nog gesoek. Greeff het gesê ’n Ford-bakkie en elektroniese toerusting is gesteel en die huis is toegesluit voordat die moordenaars gevlug het. “Ek was in skok toe ek hulle gekry het. Hulle het almal regverdig en met respek behandel en sou nooit ’n vlieg skade aandoen nie. Ek is nou ’n weeskind.” Die Greeffs word ook oorleef deur Ryno se dogters, Emma (13) en Klara (10), asook sy susterskinders, Alex (25) en Robert (27). Hul ma, Elize, is in 2001 aan kanker dood. ’n Roudiens vir die egpaar word Woensdag 14:00 in die NG kerk Randburg in Ferndale gehou.

No comments:

Post a Comment