Sunday, September 16, 2012

Skote keer held nie

Die man van Muldersdrift aan die Wes-Rand wat Donderdag sewe keer deur ’n toe deur geskiet is, het ’n heldedood gesterf. Nadat hy raak geskiet is, het hy aanhou opstaan om sy gesin teen ’n rowerbende te beskerm. So sê die gesin van André Jordaan (50), wat in dieselfde straat aangeval is as waar Alyssa Botha (13) die vo­rige week deur vermoedelik dieselfde moordbende vir haar selfoon doodgeskiet is. Jordaan is eergister in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood. Shaun Jordaan (26) sê sy pa is geskiet terwyl hy sy vrou, Isabel (48), sy ander seun, Kevin (23), dié se swanger vriendin, Mariska (24), en sy (Shaun se) vrou, Jeanine (23), teen minstens vier rowers beskerm het. “My pa was ’n held wat ons almal opgepas het,” het Shaun gesê. “Hy het daai aand die punch vir almal gevat ...” Shaun het Donderdag na die bure gehardloop om hulp te kry, terwyl sy broer en hul pa ’n deur van binne toegedruk het sodat die aanvallers nie by die familie kon uitkom nie. Die rowers het toe minstens sewe skote deur die deur geskiet. Jordaan is drie keer in die maag, twee keer in die bors, in sy linkerarm en regterskouer getref, maar het die deur bly versper. “Ek het gesien hoe my skoonpa ná die eerste skoot neerval, maar toe dadelik opstaan en aanhou keer dat hulle by die kamer inbars,” het Jeanine gesê. “Hy het elke keer wat hulle hom geskiet het, net weer opgestaan – hy het nooit gaan lê nie ...” Shaun het in die tuin geskuil terwyl ’n rower na hom gesoek het, terwyl die ander die stoepdeur “van sy skarniere af geskop” en Jordaan sr. en Kevin agternagesit het. Hulle het volgens Jeanine dadelik deur die toe deur begin skiet toe hulle binnekom. Jordaan sou volgens die gesin Vrydagoggend ’n noodoperasie ondergaan om die koeëls te verwyder, maar dit het nooit gebeur nie. Hy is eergister omstreeks 22:05 dood. “Ons wil net weet wat fout gegaan het en is desperaat om antwoorde by die hospitaal te kry,” het Shaun gesê. “My pa was Donderdag ná die skietery tot eergistermiddag nog baie sterk,” het Shaun gesê. Johanna More, hoofbeampte van Chris Hani Baragwanath, het gister gesê sy was al in kontak met die gesin en sal vandag met hulle vergader. Die vermeende rowers verskyn vandag in die Krugersdorpse landdroshof en word volgens drie onafhanklike bronne met sowat nog 14 misdade verbind. Beeld verneem vertroulik dat die polisie onder meer vermoed dat hulle ook onlangs twee polisiemanne tydens ’n huisrooftog aan die Oos-Rand doodgeskiet het. ’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. Katlego Mogale, wou net sê die ondersoek gaan voort.

No comments:

Post a Comment