Thursday, September 27, 2012

Eienaar van roomyswinkel erg aangerand

NADAT hy meters ver om ’n gebou gesleep is en vyf keer met ’n mes bygedam en beroof is, het ’n Bloemfonteinse winkeleienaar genadiglik die dood ontkom. Willie Booysen (60), wat ’n onderneming in Wes-Burgerstraat besit waar werknemers met fietse uitgaan en roomys teen ’n kommissie verkoop, was gister ná sy ontbering die afgelope Vrydag weer op die been. Een van die steekwonde in sy nek het na bewering rakelings sy hoofslagaar gemis. Hy is ook drie keer in die skouer en skrams bo sy linkeroog raakgesteek. Booysen is kort ná die aanval na die Mediclinic Bloemfontein gebring. Hy vertel hy het Vrydagaand by ’n syhek vir ’n werknemer gewag om terug te kom sodat hy die winkel kon sluit. “Hy moes 17:00 terug wees. Ek het hom net die vorige dag aangespreek omdat hy so laat kom. Ek wil nie die winkel in dié gebied te laat sluit nie.” Toe die roomysverkoper kort ná 18:00 terugkeer, het hy hom weer aangepreek. Oomblikke later het twee mans hom met pepersproei in die gesig gespuit. Dit is dieselfde botteltjie pepersproei wat hy vir sy werknemer gekoop het om hómself op straat mee te beskerm. Hy het sy werknemer om hulp gesmeek. Die werknemer het glo gesê: “Ek gaan vir húlle help. Vir jou maak ek vrek.” Booysen sê hulle het hom na die agterkant van die gebou gesleep waar niemand hulle kon sien nie. “My knieë, my maag en elmboog is nou nog rou.” Die aanvallers het hom erg aangerand. Hy het na die winkel probeer terughardloop. Daar het sy werknemer hom herhaaldelik met die mes gesteek. “Hulle het my aanhou slaan en beveel om die brandkluis oop te maak. Ek het geweier.” Die rowers het sy selfoon, ’n skootrekenaar, sy juweliersware, beursie met kaarte en kontant, asook sy bakkie se sleutels gebuit. Booysen het dit reggekry om deur die winkel se voordeur te ontsnap en hulp te ontbied. Die rowers het toe gevlug. “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek só iets oorkom. Dit gebeur mos altyd met ander mense. Ek gaan net meer op my hoede moet wees. “Ek oorweeg dit om na ’n ander perseel te skuif.” Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die 38-jarige Pule Mosepele, die betrokke werknemer, en nog een van die vermeende aanvallers het reeds in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklagte van besigheidsroof en poging tot moord verskyn. Die ander twee vermeende rowers is nog op vrye voet. - Volksblad

No comments:

Post a Comment