Thursday, August 23, 2012

2 vas ná bejaarde egpaar se kele gesny is

Pauli van Wyk Twee huurders is gister in hegtenis geneem enkele ure nadat die kele van die bejaarde egpaar by wie hulle gewoon het, afgesny is. Marié (68) en Leon Sim (71), ’n ekonomie-onderwyser aan die Global Secondary School in Kempton Park, is vermoedelik eergisternag laat in hul huis in Cress­lawn aan die Oos-Rand vermoor. Die egpaar, wat die Anneliens-gastehuis besit en bestuur het, was ’n tyd lank met die hoofverdagte in ’n dispuut oor huurgeld en die leen van ’n kragopwekker betrokke, het hul oudste seun John gister gesê. “Gister was D-dag. Hy wou die huurgeld en die generator gehad het, anders sou my pa vandag (gister) ’n klag van diefstal by die polisie ingedien het.” Ao. Cobus Holloway, polisiewoordvoerder, het dit as ’n moontlike motief bevestig. Thembi Radebe, huiswerker, was bitterlik hartseer toe sy vertel van die bloed teen die mure en op die vloer en hoe sy op die lyke afgekom het. “Hulle was my ma en my pa. Dit is verskriklik. Ek weet nie wat sal ek nou maak nie.” Radebe het omstreeks 08:00 by die gastehuis aangekom en die motorhek en ander huisdeure oop gevind. “Dit was vreemd, want die hekke is altyd toe.” Sy en ’n ander huurder is na die woonstel agter die gastehuis waar die egpaar gebly het. Rook het uit die voordeur getrek. “Ek het geroep en niemand het geantwoord nie. Toe word ek bang en bel die polisie.” Leon is in die tuin gevind met verskeie steekwonde aan sy lyf. Volgens Holloway lei die polisie uit sleepmerke af hy is doodgesteek waarna hy om die huis gesleep is. “Marié is in hul woonstel gevind, ook met steekwonde. Die oortreders het ’n tipe swembadmiddel gebruik om haar lyk aan die brand te steek.” Polisielede het op ’n wenk reageer en ’n sektor aan die Oos-Rand gefynkam vir die verdagte, het Holloway gesê. “Terwyl ons rondgery en na hom gesoek het, het hy oorkant ons by ’n kruising in ’n enkelkajuitbakkie stilgehou. Hy was alleen in die voertuig en is net daar gearresteer. Dit was omstreeks 14:45. ’n Tweede, vroulike verdagte wat waarskynlik medepligtig is, is later ook gearresteer. Die moordwapen is nog soek.” Mariaan Otto, Marié se niggie, het die egpaar as onafskeidbaar beskryf. “Al goeie ding wat hieruit gekom het, is dat hulle saam weg is. Dis net aaklig van die klein Jack Russel, Jackie. Sy moes seker die hele aand daar by Marié gebly het, want sy het vanoggend hier uitgehardloop vol roet. “Verlede jaar is Douw Brummer, ’n neef, op sy plaas in Thabazimbi vermoor. Jackie was sy hond en het by Marié en Leon kom bly.” Douw Brummer (50) is in Oktober van agter in die kop geskiet op sy plaas, Goedgedacht, buite Dwaalboom, het Marietie Louw-Carstens destyds berig. Die egpaar laat drie kinders – John, Magda en Nicolaas – en een kleinkind agter.

No comments:

Post a Comment