Monday, August 13, 2012

Twee vermoor, twee ernstig gewond in plaasaanvalle

Maryke Swart LADYBRAND. – Allen Rodgers, ’n Amerikaanse plaasbestuurder in die distrik, is gisteraand per ambulans met kapwonde en snye na die Mediclinic Bloemfontein gejaag nadat hy vroegaand op die plaas Geluk met kapmesse aangeval is. Rodgers (61) is deur drie mans aangeval en het kapwonde aan sy kop, snye aan sy hande en kneusings opgedoen. Hy is deur die aanvallers in die plaashuis ingewag nadat hulle eers sy vriendin, Mandy, oorval en vasgebind het. ’n Boer hier het gesê: “Die mans het hom met pangas aangeval en sleg gewond.” Bernard Maree, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), sê die aanvallers het glo sowat R10000 en selfone gesteel. Die polisie was teen druktyd nog op die plaas en soldate het op die grens na Lesotho na die booswigte gesoek. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic, het teen druktyd gesê hy is in ’n stabiele toestand. Geluk is een van verskeie plase wat deur die Amerikaanse boerderymaatskappy SBH Farms besit word. Mense het gister hier bespiegel dat die aanval verband kan hou met die onlangse aflegging van werkers. ** By Hartbeesfontein, in Noordwes, is Ronél van Eyk (46) gister by haar plaashek doodgeskiet minute nadat sy haar seun Freddie (9) by die skool afgelaai het. Die rowers het haar oorval toe sy uit haar Toyota Condor klim om die plaashek oop te maak. Die rowers het Van Eyk verskeie kere geskiet, onder meer in die gesig. Hulle het met haar motor gevlug. Dit is enkele ure later verlate naby Coligny gevind. Jurie Fourie, eienaar van die buurplaas, het vertel hy was besig met ontbyt in sy dorpshuis toe sy selfoon net ná 08:00 lui. “Dit was Ronél, sy het net geroggel. Ek het teruggebel toe die selfoon afgaan. Ronél het opgetel en weer net geroggel.” Fourie en ’n vriend, Sarel van Biljon, het hulle na die plaas gehaas. Daar het hulle Van Eyk nog lewend by die plaashek aangetref. Hulle het ’n dokter, die polisie en ambulans ontbied. Van Eyk het kort voordat sy beswyk het, beduie daar was drie rowers. ** Op die plaas Armadale by Jansenville is Owen Charles (70) Sondagaand deur plaasaanvallers vermoor. Sy vrou, Janet, wie se 70ste verjaardag hulle Saterdag gevier het, is met ’n mes gesteek en met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en is in ’n ernstige toestand na die Life St. George-hospitaal in Port Elizabeth gebring. - Volksblad

No comments:

Post a Comment