Wednesday, August 15, 2012

Aanval kan VS miljoene kos

Jana van der Merwe MILJOENE dollars se beleggings in die Vrystaat is in die gedrang nadat ’n Amerikaanse plaasbestuurder in die distrik Ladybrand wreed met kapmesse aangeval is. Alan Rogers (61), ’n direkteur van die Amerikaanse boerderymaatskappy SBH Farms, was gister in ’n stabiele toestand in die Mediclinic Bloemfontein ná die aanval op hom en sy vriendin, Mandy Rynhoud. Een man, na verneem word ’n werknemer, is sedertdien deur die polisie aangekeer. ’n Gesteelde selfoon en van die gesteelde geld is ook teruggekry. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic, sê Rogers moes gister ’n operasie vir sy gebreekte linkerboarm en ’n wond aan sy linkerhand ontvang. Rogers, wat die afgelope vier jaar as plaasbestuurder op die plaas Geluk werk, was gister steeds erg getraumatiseerd. Hy is eergisteraand per helikopter na Bloemfontein gebring. Twee aanvallers het hom in die plaashuis ingewag. Hulle het eers Rynhoud, ’n gr.R-onderwyseres op Ladybrand, oorval en vasgebind. Hoewel sy met die dood en verkragting gedreig is, het sy slegs kneusplekke opgedoen. Dr. Stephen Rogers, Rogers se broer en voorsitter van SBH, het gister namens SBH gesê dit is “nie meer moontlik vir hulle om so te werk nie”. Hy sê hul vermoëns om ’n verskil te maak, word toenemend deur misdaad oorweldig. Hy het, as verteenwoordiger vir ’n groep beleggers van Amerika en elders, gesê hulle het “’n kans gevat om in die nuwe Suid-Afrika te belê”. “Ons het op lang termyn in die toerisme- en landbou-sektor belê en het miljoene dollars se buitelandse beleggings ingebring, asook baie werk in die Oos-Vrystaat geskep. Ondanks die dringende behoefte vir ’n herlewing in die landbousektor in hierdie deel van die land, en die behoefte vir nuwe idees, vind ons dat ons eie asook die publiek se vermoëns om ons lewe en eiendom te beskerm, oorweldig word.” Hy sê diefstal kom weeklikse of selfs meer dikwels voor. “Ons lewe is in gevaar. Dit is nie moontlik om so te werk nie.” Bernard Maree, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het gister bevestig een vermeende aanvaller is vasgetrek. Vermoedelik is of was hy ’n werker op die plaas. Die polisie was teen druktyd warm op die spoor van ’n tweede aanvaller. “As iemand in die boerdery seerkry, kry ons almal seer. Of hy nou ’n lid van VL is, is of nie. Ons moet alle aandag op dié gebeure vestig, want wie weet, môre is dit jou beurt.” - Volksblad

No comments:

Post a Comment