Monday, May 7, 2012

VS-man flenters gekap

Jana van der Merwe



DIE bende panga-rowers wat ’n skrikbewind in die suide van Bloemfontein voer, het weer toegeslaan en ’n man flenters gekap in ’n inbraak en aanval in ’n meenthuis in Fleurdal.

Dit was minstens die sesde aanval deur dié bende.

Die polisie het kort na dié wrede aanval ’n deurbraak gemaak en vier Mosambiekers vasgetrek.

Lt.kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die mans, wat gister in die landdoshof verskyn het, word ook verdink van verskeie ander huisrooftoge sedert verlede jaar in Uitsig en Fleurdal.

Mnr. Johan Meyer (56) van Durban is Woensdag in die oggendure in die jongste rooftog wreed met ’n panga en mes aangeval en erg beseer.

Hy is in die Pelonomi-hospitaal met ’n gekraakte skedel asook verskeie kap- en steekwonde opgeneem.

Hy moet vandag ’n operasie ondergaan om die spiere van sy linkerarm, wat oopgekloof en gebreek is, te heg.

’n Steekwond in sy regtersy het sy longe rakelings gemis.

Meyer het in Bloemfontein by sy vriendin me. Lizette Labuscagne en haar dogter Ankiah (17) gekuier.

Ankiah se pa, Kobus, van Fichardtpark, sê die Here se hand van beskerming was oor sy familie.

Die mure en vloere was besmeer met Meyer se bloed en oortrek met glasstukke. Ankiah sê sy het gehoor hoe die aanvallers die veiligheidshek afbreek.

“Ek het na my ma-hulle se kamer gehardloop en vir hulle gesê daar is mense in die huis.”

Ankiah het in ’n kas gaan wegkruip. Haar ma en Meyer het gaan ondersoek instel.

“Ek het net die oom hoor skree. Ek het probeer kophou en kalm bly. Ek het gedink my ma en die oom is albei dood.” Ankiah het in die kas haar pa gebel.

Mnr. Labuscagne het die polisie ontbied en na die huis gejaag.

Drie mans het vir Meyer getakel en hom verwoed begin kap. Mev. Labuscagne het vir haar lewe na die kamer gevlug.

Die familie vermoed die rowers het nie geweet Meyer was saam met die twee vroue in die huis nie.

Hulle het ná die aanval slegs ’n paar goed, waaronder Ankiah se handsak, gesteel en gevlug. Van die gesteelde goed is later deur die polisie in Rocklands gekry.

Die familie het die polisie se blitspatrollie en personeel van die Parkweg-polisiekantoor geloof vir hul vinnige optrede.

Volksblad het onlangs berig minstens vyf gesinne is die afgelope jaar deur ’n pangabende in hul huise oorval en beroof.

Mnr. Thys Rossouw, sy verloofde en haar vierjarige dogter is vroeër vanjaar in hul meenthuis oorval, ontvoer en beroof. Mev. Elsie Kalp is ook in haar huis oorval terwyl sy en haar kleuters geslaap het. Kalp is gedwing om van haar besittings wat die rowers wou steel oor die treinspoor te dra.

Mnre. Ntuli Athus, Pangele Anthonio, Zulu Mahlabe en Zunguza Samuel, almal in hul vroeë twintigs, moet weer volgende week in die hof verskyn ná die jongste aanval.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment