Wednesday, May 2, 2012

Gesin se skietdood ontvou

Jana van der Merwe en Charné Kemp



KIMBERLEY. – ’n Tienerseun word deur die polisie verdink in die polisie-ondersoek na die treurspel die Paasnaweek by Griekwastad waarin drie lede van ’n bekende gesin in hul plaashuis doodgeskiet is.

In die binnekringe van die polisie is gister gesê ’n tienerseun is in hierdie stadium die enigste verdagte in die ondersoek na die skietdood van mnr. Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul 14-jarige dogter, Marthella.

In hierdie stadium is die vermoede dat daar slegs een skieter was. Die polisie wag egter vir ondersteunende getuienis, soos die uitslae van forensiese toetse, is gister aan Volksblad gesê.

In die polisiebinnekringe is gesê die treurspel het hom in en om die oopplan-TV-kamer van die plaashuis afgespeel.

Volksblad verneem mev. Steenkamp is moontlik eerste geskiet. Sy is na bewering twee keer geskiet waar sy voor die rekenaar digby die TV-kamer gesit het. Die doodskoot was vermoedelik een in haar agterkop.

Mnr. Steenkamp is vermoedelik tweede geskiet. Hy is na bewering drie keer geskiet; een keer in die kop.

Die 14-jarige Marthella het vermoedelik vir haar lewe gevlug. Dit is vermoedelik háár bloed wat op die kosyn en muur buite die kombuisdeur deur die polisie gevind is.

Die moontlikheid bestaan dat sy buite die huis geskiet en terug in die huis gesleep is terwyl sy nog geleef het.

Sy is na bewering twee keer geskiet; in die sy en in die kop.

Ma en dogter se lyke is bymekaar in die huis gekry en die lyk van mnr. Steenkamp ’n ent verder.

Die egpaar en hul dogter is na bewering op ’n kort afstand geskiet, waarskynlik met ’n .22-geweer en ’n .357 Magnum-rewolwer wat aan mnr. Steenkamp behoort het. Die kluis waarin die wapens was, was oopgesluit, is aan Volksblad gesê.

Ballistiese toetse sal bepaal wie met watter vuurwapens geskiet is.

Dié uitslae kan volgens sers. Andrea Cloete, polisiewoordvoerder, tot vier weke neem.

Wyle mnr. Steenkamp se suster, mev. Marianna Smith, het vroeër aan Volksblad gesê haar broer en sy dogter het graag saam TV gekyk.

Sy het gesê Don (15), die enigste oorlewende lid van die gesin, en sy ma het nie so baie TV gekyk nie.

“Hy (Don) is die buitekind. ’n Regte platjie wat graag poetse bak.

“My broer was ’n groot man wat 140 kg geweeg het. Hy was nie ’n sagte teiken of ’n man wat sommer aangeval kon word nie. Christel was bedag op sekuriteit en het altyd die sifdeur by die kombuisdeur gesluit. Sy sou haar beslis teëgesit het tydens die aanval. Daarom dink ek hulle is waarskynlik onverhoeds betrap,” het Smith gesê.

Cloete het gesê die polisie gaan in hierdie stadium geen inligting oor die ondersoek of die misdaadtoneel bekend maak nie, omdat dit “die ondersoek kan belemmer”.

Die motief vir die moorde is ook steeds ’n raaisel. Familielede het vroeër gesê jaloesie kon moontlik ’n rol gespeel het.

No comments:

Post a Comment