Wednesday, May 2, 2012

Boervrou vermoor

Amanda Roestoff
’NVyfjarige seuntjie en sy driejarige sussie het eergisteraand in die donker gaan hulp soek nadat hul ma voor hul oë op ’n plaas naby Randfontein doodgeskiet is.

Me. Venessa Stafleu (34) is vermoedelik kort voor 20:00 op die plaas Doornfontein 2 geskiet terwyl haar man, Willem, pa, mnr. Corrie Nel, en broer, mnr. Corné Nel, by die melkery besig was.

Mnr. Nel sr. en sy vrou, Chrissie, bedryf die Rusco-melkery op die naburige plaas Doornfontein.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het gister gesê mnr. Stafleu het onderweg na sy plaashuis op sy kinders afgekom.

“Toe hy hulle optel, het hy dadelik besef iets is verkeerd by die huis.”

Stafleu het hom na die huis gehaas en sy vrou se lyk in die gang van die plaashuis gevind.

“Die motief vir die moord is steeds onbekend,” het Ernst gesê.

Volgens ’n outomatiese SMS-stelsel van Conserv-sekuriteit wat die aand van die voorval onder die boeregemeenskap versprei is, is geld en gewere uit die plaashuis gesteel voordat die aanvaller(s) op die vlug geslaan het.

Ernst kon nie die presiese aard van die items bevestig totdat die polisie-ondersoek afgehandel is nie.

By Beeld se besoek aan die Rusco-melkery gister het die polisie albei plase aan weerskante van die R41-pad vir leidrade gefynkam.

Volgens Ernst is die polisie se K9-eenheid reeds dieselfde aand ontplooi om na leidrade te soek.

Weens die donker is dit naderhand tot gisteroggend uitgestel.

“Die Randfontein-polisiekantoor sal geen steen onaangeroer laat om die verdagte(s) te identifiseer en aan te keer nie. ’n Moordsaak is intussen geopen,” het Ernst gesê.

Byna 13 maande gelede is mnr. Koos van Rooyen, ’n mielieboer van Witfontein, sowat 5 km van die twee Doornfontein-plase, vermoor.

Sy moordenaars – Johannes Jabavu (22) en Johnny Mnisi (19) – het verlede Woensdag skuld beken. Jabavu is vir 25 jaar tronk toe gestuur en Mnisi vir 15 jaar.

Mnr. Thomas Walters, DA-LPW en Gautengse -woordvoerder oor landbou en landelike ontwikkeling, het gister gesê die moord op Stafleu is sinneloos.

“Ons wil graag ons medelye toon met Venessa se familie en wil verseker dat geregtigheid geskied. Daar is ’n gebrek aan veiligheid vir boere op die platteland.

“Die DA wil weer ’n beroep op die regering doen om hierdie kritiek belangrike sektor en sy mense te beskerm,” het Walters gesê.

’n DA-afvaardiging beoog om die familie vandag te besoek.

No comments:

Post a Comment