Wednesday, May 23, 2012

Babamoord skok

Gerhard Pretorius en Piet Matipa

Die kind waarop ’n egpaar van Delmas agt jaar lank gewag het, is gister saam met sy dagmoeder vermoor – skaars vyf maande ná sy geboorte.

Die polisie, familie en inwoners van die dorp in Mpumalanga het gister in Geldenhuysstraat saamgetrek waar baba Wiehan Botes en Margrietha de Goede (66) albei vermoedelik verwurg is.

Wiehan was die seuntjie van Wiets en Rieta Botes.

Cobus Fourie, ’n lid van die plaaslike buurtwag, het gister op die toneel vertel dat hulle by dié huis gaan ondersoek instel het nadat Rieta Botes hulle laat weet het De Goede antwoord nie haar telefoon nie.

“Ons moes ’n venster breek om toegang tot die huis te kry. Ons het ’n huilende 18 maande oue baba in ’n bababed gekry,” het Fourie gesê.

Díé baba is ook deur De Goede opgepas en is die kind van ’n ander ouerpaar.

Fourie het gesê daar was geen teken van die dagmoeder of Wiehan nie en hulle het na dié twee begin soek.

Sowat 30 minute later het hulle Wiehan se lykie onder ’n bed in ’n slaapkamer gevind. Beeld het verneem daar was wurgmerke aan sy nek.

Fourie het gesê hulle het De Goede se lyk ’n uur later onder ’n mat in ’n buite-stoorkamer gevind.

Beeld verneem daar was ook wurgmerke aan haar keel en bloed aan haar kop, waar ’n besering sigbaar was.

Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê ’n grootskaalse soektog na die moordenaars is aan die gang.

“Ons is op die spoor van mense wat moontlik inligting het oor die moord,” het Hlathi gesê.

Ds. Gawie Snyman van die NG kerk Delmas-Wes, waar die Botes-gesin en De Goede lidmate is, het gesê dié moorde het die hele gemeenskap geruk.

“Dis ’n klein dorpie en ons almal lewe baie na aan mekaar. Mense ken mekaar goed en dié moord is ’n gruwelike gebeurtenis in dié gemeenskap.

“Daar is baie onbeantwoorde vrae oor wat die motief vir die moorde was en ons as die gemeenskap soek antwoorde en wil wéét wie hierdie gru-moorde gepleeg het.”

De Goede se twee dogters, Dina White en Maretha Gunther, het hulle van Marble Hall en Bela-Bela (Warmbad) gehaas toe hulle die nuus ontvang het dat hul ma vermis word.

Cobus Roos, ’n kollega van White wat haar van Marble Hall af gebring het, het gesê White het onderweg na Delmas, net voor Bronkhorstspruit, die tyding gekry dat haar ma vermoor is.

“Dina is ’n emosionele wrak. ’n Yskoue rilling het deur my gegaan toe ons die nuus in die kar gekry het. Watter soort mens doen dit – vermoor ’n ou tannie en ’n klein kind in ’n huis? Dit is siek!” het Roos gesê.

Toe White by haar ma se huis aankom, het iemand De Goede se hondjie, Vlekkie, aan haar gegee. Sy het die hond huilend vasgehou.

Jean Kotze (15), wat voorheen deur De Goede opgepas is, het gesê sy was vir hom soos ’n ouma. “Ek is baie hartseer en voel leeg.”

Jean se ma, Polla Kotze, het gesê dat De Goede ’n fantastiese mens was. “Sy was ’n groot Christen.”

No comments:

Post a Comment