Wednesday, May 30, 2012

Rowers ontvoer, vermoor jong ma

Buks Viljoen en Aletta Otto
Middelburg. – ’n 33-jarige vrou van die dorp is gister doodgesteek nadat rowers haar ontvoer het en geld drie keer deur die dag uit haar bankrekening onttrek is.

Igna Nortjé se lyk is naby Verena tussen eMalahleni (Witbank) en KwaMhlanga gevind, sowat 40 m van haar verlate motor.

Sy het verskeie steekwonde, onder meer aan haar keel, gehad, het kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, gesê.

Dit het gevolg op ’n grootskaalse polisiesoektog wat begin het nadat haar man, Riaan (31), haar nie in die hande kon kry nie.

Hy het gister kort ná 09:00 laas met haar gepraat toe sy gesê het sy gaan haarkapper toe.

“Ek het haar verskeie kere deur die dag gebel, maar sy het nie geantwoord nie.

“Ek het later vasgestel sy het ook nie by die werk opgedaag nie,” het Riaan gesê.

Igna het as oudioloog op die dorp gewerk. Die egpaar het ’n agtjarige dogter, Mia.

’n Gaspistool is uit ’n kluis in die egpaar se motorhuis gesteel.

Daar is later vasgestel dat haar bankkaart drie keer deur die dag gebruik is.

Geld is twee keer in Middelburg getrek en later die middag is haar bankkaart by ’n kitsbank by die Blinkwater-meule langs die Middelburg/Stoffbergpad gebruik.

No comments:

Post a Comment