Wednesday, May 16, 2012

Boewe met blou lig kaap talle motoriste

Jani Meyer
’n Bende bloulig-rowers het die afgelope twee weke agt keer in Gauteng toegeslaan en motoriste gekaap.

Genl.-maj. Phumzo Gela, waarnemende Gautengse polisiekommissaris, het gister op ’n mediakonferensie gesê die modus operandi is dieselfde.

“Daar is tussen drie en vyf mans, gewoonlik in ’n wit (VW) Golf, met ’n blou lig op die dak. Hulle is in uniform en is gewapen.”

In die onlangse voorvalle is drie motoriste in Midrand, een in Garsfontein in Pretoria, een in Sandton, een in Honeydew en een in Olivienhoutbosch gekaap.

Gela het gesê die moontlikheid dat sommige van die mans wel in die polisie is, kan nie uitgesluit word nie.

“Ons het die afgelope 18 maande 600 lede van die polisie in Gauteng gearresteer.”

Hy het gesê daar is korrupte beamptes, maar hulle is ’n klein minderheid.

Gela het motoriste gewaarsku om nié af te trek indien hulle onveilig voel nie.

“Polisie op patrollie ry in duidelik gemerkte voertuie. Daar is gewoonlik twee lede in die voertuig, nie drie of vyf nie.”

Indien ’n motoris deur ’n ongemerkte voertuig afgetrek word, moet hulle na die naaste polisiekantoor ry.

“As daar nie een naby is nie, kan hulle byvoorbeeld na ’n dienssentrum of plek waar daar heelwat mense is, ry. As dit ’n wetsgehoorsame beampte is, sal hy jou volg.”

Gela het gesê die publiek het die reg om ’n polisiebeampte te vra vir sy identifikasie en hulle behoort ’n naamplaatjie te dra.

Dit is ook belangrik om so gou moontlik die voorval aan te meld sodat die regte polisie op die uitkyk vir die gekaapte voertuig kan wees.

“Bel 10111, gaan na die naaste polisiekantoor of bel die sektorpolisie. Maak seker dat die inligting en beskrywing van die kapers so gou moontlik gesirkuleer word. Sommige mense maak eers die volgende dag of ’n paar uur later ’n klag aanhangig.”

No comments:

Post a Comment