Sunday, May 13, 2012

Ma oorleef skoot in huisroof

Marlene Jordaan
“My ma het die hart van ’n leeu. Ons is net so dankbaar dat sy vir ons gespaar gebly het op hierdie Moedersdag. Pleks dat ons gaan uiteet soos beplan, moet ons vir haar blomme in die hospitaal neem.”

Só het Chalmaine Raath gister gesê nadat haar ma, Hannetjie Griessel (58), Saterdagaand op Odendaalsrus in ’n gewapende huisrooftog in die rug geskiet is.

Kapt. Rulene Kuhn, polisiewoordvoerder, sê die polisie het nog geen verdagtes in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Griessel word in die Mediclinic Welkom behandel. Haar sleutelbeen is deur die koeël vergruis, maar gelukkig is geen are of organe getref nie, sê Raath.

“Die dokter sê dit is ’n wonderwerk.”

Raath is On the Dot, Volksblad se verspreidingsagentskap, se kleinhandeldiensbestuurder vir die Vrystaat en Noord-Kaap.

’n Bewoë Japie Griessel (64), Hannetjie se man, sê hy kan nie beskryf wat deur sy kop gegaan het toe hy die skoot hoor klap en besef sy vrou is geskiet nie.

Die egpaar het by hul seun, Corrie, en sy vrou, Laurika, gekuier toe die voorval gebeur het.

“Ons wou net die Stormers-Cheetah-wedstryd begin kyk toe drie mans die vertrek binnestorm. Die derde een het ’n pistool by hom gehad. Hy het ons beveel om te lê.

“Hulle het sommer dadelik begin om die TV uit te dra,” vertel Japie.

Die mans het vermoedelik by ’n deur ingekom wat oopgelaat is vir die hond om uit te gaan.

“Toe ek opstaan, skiet hy ’n skoot tussen my bene in die blokkiesvloer. Hulle het my geklap dat my bril van my gesig trek en my horlosie van my arm af gevat. Toe gryp hulle ons selfone. My vrou wou opstaan, toe klap hy haar om. In die vallery skiet hy haar in die rug. Sy het net gesê hulle het haar geskiet. Ek was lam van skok. Die skoot se klap was oorverdowend.”

Volgens Japie het die rowers geskrik toe hulle die bloed sien en met die TV, ’n skootrekenaar, geld, selfone en sy horlosie weggehardloop.

Japie sê hy het omtrent teen 180km/h met sy vrou na die hospitaal in Welkom gejaag.

“Ek het nie geweet hoe ernstig dit is en of sy dalk sterwend is nie. Elke sekonde tel dan.”

Japie sê dit gaan onder omstandighede goed met sy vrou. “’n Mens kan nie help om tog negatief te voel oor wat dié mense aan haar gedoen het nie. Maar ons is dankbaar dinge het nie erger uitgedraai nie.”

Volgens Chalmaine behoort haar ma oor sowat vyf dae uit die hospitaal ontslaan te word. - Volksblad

No comments:

Post a Comment