Thursday, May 3, 2012

Aanval op bekende boer se plaas

Marlene Jordaan



BOTHAVILLE. – Twee sekuriteitswagte van ’n baie bekende boer en jare lange inwoner van die distrik is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hulle met ’n hamer in ’n plaasaanval aangerand is.

’n Plaaswerker van die beesboer mnr. Frikkie Rautenbach (95) van die plaas Eensaamheid is ook met ’n geweerkolf teen die kop geslaan en ’n verpleegster wat hom versorg, is aan die hare in die huis rondgesleep terwyl die rowers die kluis se sleutels geëis het.

Die Valke lei ’n grootskeepse soektog na die ses aanvallers. Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Rautenbach sr. sukkel met sy rug en sit daarom soms in ’n rolstoel, sê sy kleinseun, Frikkie jr.

Sy oupa is nie in die aanval beseer nie, maar ly aan skok. Die verpleegster is ook erg geskok.

Die plaaswerker is in die hospitaal vir sy beserings behandel, maar is intussen weer ontslaan.

Die twee sekuriteitswagte is in Bloemfontein in die hospitaal opgeneem, sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.

Die polisie het Volksblad gevra dat die sekuriteitswagte, plaaswerker en verpleegster se name weens sekuriteitsredes nie bekend gemaak word nie.

Volgens Thakeng het vier gewapende mans die wagte Dinsdag omstreeks 22:00 oorval en erg geslaan. Nog twee gewapende mans het ’n plaaswerker met ’n geweerkolf teen die kop geslaan.

Die ses mans het die veiligheidshek van die plaashuis oopgebreek.

Die verpleegster wat Rautenbach sr. versorg, is aan die hare rondgesleep. Hulle het die kluis se sleutel later in ’n beursie by Rautenbach sr. gekry.

Thakeng sê geld en ’n 9mm-pistool is uit die kluis geroof.

Die rowers het probeer om met Rautenbach se bakkie te vlug, maar het teen ’n boom op die erf gebots. Hulle is te voet weg.

Rautenbach jr. sê die familie het geweldig baie ondersteuning van die gemeenskap gekry.

“Ons as familie wil boere net weer opnuut waarsku om altyd bewus te wees van wat op hul plase aangaan. Dis baie belangrik.”

Die polisie vra mense met inligting om speurder-ao. James Ma-hlatsi van die Welkom-polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad (Valke) te bel by 082-4530-806.

No comments:

Post a Comment