Wednesday, May 30, 2012

Polisieman rand seun aan; dreig ouers

André Damons



’n DRONK polisieman en twee van sy dronk vriende het na bewering eers ’n rooi verkeerslig verontagsaam en byna ’n jong motorfietsryer getref en daarna die motorfietsryer voor die Batho-polisiekantoor aangerand.

Die besope polisieman het glo later ook by die polisiekantoor op Grant van der Westhuizen (19) en sy ouers gevloek en gedreig om hulle dood te maak.

Grant se ma, Hendrina, sê: “Hy het gesê ons is wit gemors en moet f*k*f. Hy was dronk en aggressief en het gesê hy gaan ons vrekmaak.

“Ek het gevrees vir ons lewe. Hoe kan hulle so werk? Hulle was dronk en het amper my seun doodgery en toe rand hulle hom nog aan ook. My seun is aangerand deur iemand wat ons moet beskerm. Geregtigheid moet geskied.”

Kapt. Rulene Kühn, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee klagte van aanranding en ’n klag van crimen injuria is teen ’n polisieman ingedien. Dit is na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys.

Grant, ’n werknemer van OFS Paneelkloppers, sê hy was eergisteraand omstreeks 19:00 op pad huis toe, toe die bakkie naby die Batho-polisiekantoor die verkeerslig verontagsaam en voor hom ingejaag het.

“Ek het by die Batho-polisiekantoor stilgehou toe twee van die mans by my kom staan.

“Een het gesê ek het sy ma gevloek, wat ek nie gedoen het nie. Hulle het my hande op my motorfiets vasgedruk, my valhelm afgehaal en my begin slaan.”

Hy het losgeruk, weggery en sy ma ’n ent van die polisiekantoor af gebel.

Hy en sy ouers is na die polisiekantoor om na die dronk polisieman-bestuurder van die bakkie te soek. Dit is toe dat hulle gevloek, beledig en met die dood gedreig is, sê hulle.

Hendrina sê sy sal nooit die uitdrukking op haar kind se gesig kan verwerk nadat hy aangerand is nie. “Ek kan enigiets verwerk, maar nie dit nie. Hy het verward gelyk en vanoggend (gisteroggend) was sy oë vol trane.”



- Volksblad

No comments:

Post a Comment