Wednesday, May 9, 2012

Rowers skiet man dood wat sy suster red

Riata Nel
’n Gewonde 21-jarige man van Vereeniging het gewapende rowers gister tot by sy ouerhuis se buitemuur gejaag voordat hy inmekaargesak en gesterf het.

Nico Daffue het sy suster, Lieja (19), te hulp gesnel toe hy geskiet is.

Lieja se vierjarige dogtertjie, Tanja, het gisteroggend gesê: “Ek soek monster wat Nico doodgemaak het, maar ek kry hom nie.”

Die rowers het net ná 04:30 op die Daffues se ouerhuis in Outeniquastraat, Sonlandpark, toegeslaan.

Lieja het op die bank voor die sitkamervenster geslaap.

“Die rowers het die venster drie keer geslaan voordat dit gebreek het. Ek het op die grond geval en gekruip. Ek het geskree,” het sy aan Beeld gesê.

Een van die drie rowers het deur die stukkende venster na binne geleun. Lieja het in sy oë gekyk.

“Ek het net oë en hande gesien. My boetie bly in die buitekamer en het om die huis gehardloop en die man uit die venster gepluk.

“Hulle het baklei. Ek het ’n skoot gehoor en in die donker net ’n vlam gesien.”

Haar broer was toe weg.

“Ek het eers gedink hulle het hom gevat. Ons het hom ’n rukkie later op die grasperk gekry. Hy was dood.”

Nico se ma, Michelle, sy broer Dawie, Lieja en Tanja was by die huis toe hy vermoor is.

Sy pa, Nico sr., werk in Rustenburg. Hy is inderhaas terug huis toe toe hy hoor sy kind is vermoor.

Rowers het vroeër die oggend by die huis van Jaco Wiggins (36) in dieselfde straat probeer inbreek. “Die honde slaap by ons in die huis omdat ons bang is hulle word vergiftig,” het Wiggins gesê.

Hy het die honde by die voordeur laat uitgaan. “Skote is afgevuur. Ek het dadelik die deur toegemaak en die hek gesluit. Die honde was buite.”

Die koeëls is deur die voorruit en voordeur. Niemand is beseer nie.

“Ons was van 02:00 af besig om oproepe op te volg,” het Collin Africa, hoof van die plaaslike buurtwag, gesê.

No comments:

Post a Comment