Wednesday, May 23, 2012

Boer geslaan, foto's by lyk geneem

Buks Viljoen

’n Boer van Wakkerstroom in Mpumalanga is gister aangerand, as gyselaar gehou en saam met ’n lyk afgeneem deur mense wat sonder toestemming ’n begrafnis op sy plaas wou hou.

Hendrik Davel (34) van die plaas Sterkfontein is gisteroggend deur ’n groep ontstoke begrafnisgangers aangeval toe hy navraag gaan doen het oor die begrafnis.

Sy broer, Sakkie (38), het hom probeer help, maar is ook aangerand en as gyselaar geneem.

Blykbaar wou die mense wat in ’n stat op die plaas woon, maar nie self op die plaas werk nie, ’n vrou daar begrawe.

Die vrou is Sondag in Johannesburg dood.

Hendrik Davel het vroeër die week aan ’n afvaardiging van die oorledene se familie gesê hulle kan haar nie op die plaas begrawe nie omdat sy in Johannesburg gewoon en gewerk het.

Gisteroggend het hy gesien ’n tent is by die stat opgeslaan.

Toe hy navraag daaroor doen, is hy aangerand en vasgebind.

Hy is toe langs die vrou se lyk laat sit en foto’s is van hom geneem.

Hierna is hy in ’n ander hut aangehou.

Toe sy broer hom probeer help, is hy ook aangerand en vasgebind.

Sy 9?mm-pistool is ook gesteel. Die wapen is later deur die polisie teruggevind.

Verskeie boere van die omgewing is intussen na die toneel ontbied om die saak te beredder.

By die polisie se aankoms is die Davels vrygelaat.

Kapt. Alf Ueckermann, bevelvoerder van die polisie op die dorp, het bevestig klagte van aanranding en diefstal word ondersoek.

No comments:

Post a Comment