Tuesday, May 8, 2012

Priester erg aangeval

Jana Breytenbach



KAAPSTAD. – ’n Priester wat 12 uur lank in sy eie bloed gelê het nadat hy aangeval is, se aanvallers is steeds op vrye voet.

Vader Andrew Cox (50) van die Katolieke kerk in Constantia is Sondagaand aangeval toe hy die kerk se deure gesluit het.

“Ek het geluide agter my gehoor en ewe skielik het drie mans op my afgestorm.”

Cox het vertel dat hy ’n mes in die maanlig gesien het voordat hulle hom tot op die grond geslaan het.

“Ek het geskree, maar niemand het my gehoor nie.”

Cox het gesê hy het terugba­klei en in ’n stadium die mes by hulle afgevat, maar kon homself nie kry om hulle seer te maak nie.

“Hulle het my oë met hul vingers probeer uitkrap, maar het dit gelukkig nie reggekry nie.”

Die verdagtes het sy hande, voete en bene vasgebind en sy oë met ’n blinddoek toegebind.

“Hulle het my met plastiek probeer versmoor deur dit in my mond te druk. Daarna het hulle die kerk oopgesluit en my na binne gesleep en in die brandkluis toegesluit.”

Cox het homself bevry en die blinddoek van sy gesig afgetrek, waarna hy agtergekom het dat hy twee keer met die mes gesteek is. Hy is in sy rug en linkerbobeen gesteek.

“Ek het ’n verklaring vir die polisie geskryf indien ek sou doodgaan asook briewe vir my familie. Ek het gebid en vrede gemaak met die feit dat ek toe kon sterf omdat ek baie bloed verloor het.”

’n Sekretaresse van die kerk het Cox die volgende oggend gevind en dadelik paramedici ontbied.

Die verdagtes het met R10000 gevlug.

Daar was Vrydag ’n mark by die kerk en volgens Cox moes die verdagtes gedink het daar sou geld op die perseel wees.

“Gelukkig was dit nie meer by die kerk nie.”

Lt.kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment