Thursday, May 3, 2012

Kapers skiet man dood by huis

Die wêreld het nou een dissipel minder.

So het past. Mario Steyn van die Lewende Woord-kerk in Brummeria gesê oor mnr. Wouter de Bruyn (46), wat Dinsdagaand deur kapers doodgeskiet is.

Drie kapers het De Bruyn en sy vrou, Marieke, oorval toe die egpaar by hul huis in Rooihuiskraal, Centurion, opgedaag het.

Volgens ’n familielid van die De Bruyns het die egpaar eergister net voor 19:00 tuis gekom en in hul motorhuis ingery. Toe hulle uit die motor wou klim, het drie mans hulle aangeval.

Volgens die familielid het die mans die egpaar uit die motor gepluk en hulle beveel om op die vloer te lê.

Hulle het die egpaar se bos sleutels gevat. Net toe De Bruyn gaan lê, het hulle hom in die regterskouer geskiet. Sy vrou is nie beseer nie. Die drie is daar weg met De Bruyn se motor.

Hulle het nie die egpaar se ander persoonlike besittings gevat nie. Die egpaar het ’n tyd gelede kameras by hul huis laat installeer. Die verdagtes is duidelik op dié beeldmateriaal sigbaar.

Die De Bruyns was twee jaar getroud. Hulle sou oor sowat ’n week die eerste keer oorsee gaan.

Steyn het gesê De Bruyn was betrokke by die Lewende Woord-kerk in Brummeria. Hy was ’n klankingenieur.

De Bruyn word vandag om 14:00 uit dié kerk begrawe.

Kapt. Pinky Tsinyane, provinsiale polisiewoordvoerder, het versoek dat enigiemand met inligting konst. Leon Meyer by die Wierdabrug-polisiekantoor bel by 012 654 4031.

No comments:

Post a Comment