Tuesday, May 22, 2012

Dogters hoor hoe pa sterf

André Damons



SKAARS twee weke ná die inhegtenisneming van vier lede van ’n vermeende panga-rowerbende wat ’n skrikbewind in die suide van Bloemfontein gevoer het, is ’n pa van twee jong kinders aan die ander kant van die stad wreed deur vier mans met kapmesse in sy huis vermoor.

Frans Day (38), ’n werktuigkundige wat onlangs van Boksburg af verhuis het, is Vrydag omstreeks middernag in sy huis in Navalsig vermoor.

Drie van sy moordenaars was met kapmesse gewapen en die vierde met ’n pistool.

Die Day-gesin is minstens die sewende gesin wat die laaste maande in die Rosestad deur mans met pangas in hul huise aangeval is.

Frans se vrou, Tanja (36), en hul jong dogters, Kaytlinn (5) en Nicole (10), se hande is vasgebind, hul monde toegeplak en hulle is in ’n hangkas in die hoofslaapkamer, waar hy vermoor is, geprop.

Sy vrou, wat nou vir haar en haar kinders se lewe vrees, sê hulle moes in die kas hoor hoe word hy vermoor. Hy is verskeie kere met die kapmesse gekap.

“Die een (aanvaller) het gesê: ‘All we need is money and sex’. Hy het later gesê: ‘Kom ons verkrag die vrou en kinders en maak hulle eerste dood.’

“My man het opgespring om ons te beskerm en is toe aangeval.

“My man het die heeltyd geskreeu: ‘Is julle orraait, is julle orraait.’

“Ek weet nie hoekom hulle hom vermoor het nie. Hy was ’n vreedsame mens wat nooit baklei het nie.”

Sy sê die mans het in ’n stadium in Afrikaans vir haar man gesê hy dink hy is slim. Sy weet nie of haar man vroeër in ’n onderonsie met die mans betrokke was nie.

Tanja en haar twee dogters is later deur die bure uit die kas bevry.

Haar man het dood in ’n plas bloed langs die bed gelê.

Tanja sê sy vrees nou vir hul lewe omdat die mans gedreig het om terug te kom.

Een van hulle se woorde was: “We will be back soon.”

Tanja sê hulle het hierheen verhuis omdat haar man ’n beter werk gekry het. Sy wil egter nou terug na Gauteng.

Die mans het die vermoorde Frans se motor, selfoon en geld geroof.

Tanja sê later in die Navalsig-polisiekantoor het sy ’n foto van een van haar man se vermeende moordenaars teen ’n muur sien hang.

Sy het die polisie ingelig.)Vier Mosambiekers, Ntuli Athus, Pangele Anthonio, Zulu Mahlabe en Zunguza Samuel, almal in hul vroeë twintigs, is vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem ná die soveelste panga-aanval in die suidelike woonbuurte.

Mnr. Johan Meyer (56) van Durban, wat by sy vriendin in haar meenthuis in Fleurdal gekuier het, is in ’n inbraak wreed met ’n panga en mes aangeval en erg beseer.




Kind (5) stom ná gebeure
NÁ die moord op haar pa is ’n vyfjarige meisie só getraumatiseer dat sy nog nie weer ’n woord gepraat het nie.

Klein Kaytlinn Day (5) het eerste haar vermoorde pa, Frans, in ’n plas bloed sien lê nadat sy en haar ma, Tanja (36), en ouer suster, Nicole (10), bevry is uit die hangkas waarin die moordenaars hulle toegesluit het.

Kaytlinn staar net voor haar uit en sê niks nie. Sy wil ook nie eet nie, sê haar ma.

“Ek is baie bekommerd oor haar. Ek dink dit is omdat sy haar pa eerste gesien het.

“Jy kan met haar praat, maar sy kyk nie na jou nie.”

Tanja sê haar oudste dogter vra na haar pa.

Hy was hul held, vertel sy.

“As kinders hulle altyd gevra het wie hul pa is, het hulle gesê Superman is hul pa.”

Tanja sê hulle wil terugtrek Gauteng toe, maar het nie geld vir buskaartjies nie.

“Ons het nie eens geld vir kos of krag nie.”

Vrou leef in vrees
TANJA DAY leef in vrees vir die mans wat haar man, Frans, met pangas doodgekap het.

Die moordenaars het gesê hulle kom terug, sê sy.

“Ek kry nie my huis se sleutels nie, nou pak ek goed teen die deure om dit moeilik vir hulle te maak om in te kom.

“Ons slaap nie in die aande nie. Ek vrees vir ons lewe.”

Sy sê sy kry vreemde oproepe van ’n mens wat geluide maak en dieselfde woorde herhaal.

“Hy het gesê: ‘Blood, blood, blood’ en toe ‘Come back, come back’.”



- Volksblad

No comments:

Post a Comment