Sunday, June 3, 2012

Húl skiet man van Centurion dood

Hilda Fourie
Veiligheidskameras buite ’n kapingslagoffer se huis kon nie sy lewe red nie, maar kan help om sy moordenaars op te spoor.

Die polisie het dié videomateriaal bekend gemaak in ’n poging om die moordenaars vas te trek van Wouter de Bruyn (46), wat vroeër vandeesmaand in sy motorhuis in Rooihuiskraal, Centurion, doodgeskiet is.

Een kamera, wat ’n tyd voor De Bruyn se dood geïnstalleer is, is bo die motorhuis waar De Bruyn doodgeskiet is.

Op die videomateriaal kan ’n mens sien hoe twee mans, gewapen met handpistole, van die hek se kant af na die motorhuis hardloop.

De Bruyn en sy vrou, Marieke, het oomblikke vroeër in hul motorhuis ingery.

Toe hulle uit die motor wou klim, het drie mans hulle oorval en uit die motor gepluk. De Bruyn is in die skouer geskiet en het op die toneel aan sy wond beswyk.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê dit is nie bekend of daar meer mans betrokke was as die twee wat op die kameras vasgevang is nie.

Die mans het met die egpaar se Audi A4 met registrasienommerplaat SDL 645 GP gevlug.

Huma het die publiek se hulp gevra om dié twee mans op te spoor.

- Enigiemand wat die mans herken, kan konst. Leon Meyer by die Wierdabrug-polisiekantoor bel by 076 373 2733.

No comments:

Post a Comment